KIMBERLEY. – ’n Man wat minderjarige meisies verkrag het, is gister tot 43 jaar tronkstraf gevonnis.
Olebogeng Thukwi (29) is gister in die hooggeregshof hier op vier aanklagte van verkragting gevonnis en is as ’n reeksverkragter geklassifiseer.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê Thukwi het vroeg in 2016 meisies tussen 11 en 14 jaar oud verkrag. “Hy het meisies in Kuruman geteiken. Thukwi het sy slagoffers gegryp, in die bosse ingesleep, verkrag en weggehardloop. Hy het die meisies in die veld gelos. Hy is deur forensiese toetse aan al vier aanklagte verbind en is in April 2018 in hegtenis geneem.”
Die Noord-Kaapse polisiebestuur het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die departement van justisie (DoJ) geprys vir hulle werk om te verseker dat misdadigers soos Thukwi uit die samelewing verwyder word. Sers. Gail Haai was die ondersoekbeampte in hierdie saak.




