Grey College-speler skouer glo skeidsregter

Deel hierdie storie / Share this story

’n Grey College-rugbyspeler se gedrag het verlede Saterdag tydens Diamantveld Hoërskool se 7’s toernooi na bewering handuit geruk toe ’n speler glo die skeidsregter geskouer het.

Skouer glo ingelê

Grey College en Helpmekaar se o/15B’s was in ’n titaniese rugbystryd betrokke vir ’n plek op die podium toe een van die spelers van Grey na afloop van ’n drie in die tweede helfte teen sy span, sy misnoeë te kenne gegee het met die beslissing. Dis toe dat hy blykbaar die skouer ingelê het.

Steur nie aan fluitjie

Francois du Bruyn, die skeidsregter, sê hy was uit die veld geslaan deur die speler se optrede. Luidens ’n verklaring wat hy by die Griekwaland-Wes Skeidsregtersvereniging (GWSV) ingedien het, het hy op sy fluitjie geblaas en die speler teruggeroep. Die speler het hom volgens die verklaring nie veel aan du Bruyn gesteur nie en net aanhou wegloop.

Rooi kaart

Die wedstryd was vir ’n wyle gestaak tot die speler wel besluit het om met die skeidsregter oor die voorval te praat. Hy is daarna met ’n rooi kaart gestraf, wat hom onmiddellik vir een wedstryd skors. Helpmekaar het die wedstryd 19-17 gewen.

Swak gedrag nie geduld

Kat Swanepoel,  voorsitter van die GWSV, sê hulle betreur die voorval. “Ons het reeds die amptelike verslag van Du Bruyn na die Vrystaat-rugbyunie, asook Grey College, verwys. Swak gedrag van spelers hoort nie in rugby nie en ons sien hierdie tipe voorval in ’n baie ernstige lig. Skeidsregters moet ten alle tye beskerm word en ons sal geen gewelddadige of negatiewe  optrede teenoor ons skeidsregters  duld nie.”

Nodige tugstappe

GWSV is in die proses om ’n amptelike skrywe aan Grey Kollege se skoolhoof te rig om die nodige tugstappe te volg, sou dit blyk die speler het wel gefouteer. Bobby Joubert, Grey College se direkteur van rugby, het aan FiND iT gesê hy is bewus van die voorval, maar het nog geen formele skrywe oor dit ontvang nie.

Die speler se naam is aan FiND iT bekend.

Drie spelers van die Fort Beaufort Barbarians klub in die Oos-Kaap is in 2015 uit alle vorm van rugby geskors nadat hulle die skeidsregter aangeval het.