SCHWEIZER-RENEKE. – ’n Bejaarde vrou (83) is gister dood in haar woonstel by ’n ouetehuis hier gevind.
Jeanette van Wyk (83), wat ’n inwoner van die Silwerjare-tehuis vir bejaardes was, se liggaam is gisteroggend in haar woonstel gevind, ná sy nie op die inroepstelsel reageer het nie.
Toegang
Kapt. Sam Tselayane, die polisiewoordvoerder vir Schweizer-Reneke, sê ‘n verdagte het toegang tot haar woonstel gekry deur ’n venster te breek. “Die verdagte het deur die venster ingekom en ook weer daar uitgegaan.”
Skoonma
Sy is die skoonma van Margaret van Wyk, wat bekend geword het ná sy per ongeluk ’n private foto, wat vir haar man bedoel was, op ’n skoolhokkie-groep gestuur het.
Inroepstelsel
Matrone Lon Seyffert van die tehuis het die gebeure aan FiND iT bevestig. “Ons het die inroepstelsel begin gebruik ná ’n tannie in die bad geval het. Die inroeptyd is saans tussen 18:00 en 19:00. Jeanette het Saterdagaand nog ingeroep, maar toe sy ná 07:00 gisteroggend nie inroep nie, het ons ondersoek ingestel. Ons het haar gewoonlik twee keer per dag besoek, omdat ons haar pille vir haar moes gee.”
Sy sê hulle het verder nog geen ander nuus ontvang nie. “Die polisie was gister die heeldag hier en ons het sedertdien wagte ook op die perseel.”
Oorsaak van dood
Tselayane sê hulle ondersoek ’n saak van moord. Die oorsaak van haar dood is aan FiND iT bekend gemaak, maar kan nog nie geopenbaar word nie, omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.
Beserings
“Sy is nie aangerand nie en het geen sigbare beserings gehad nie. Haar selfoon is in hierdie voorval gesteel. Daar moet egter nog bevestig word of daar enige ander besittings vermis word.”
Die ondersoek duur voort.



