JACOBSDAL. – Gebede van die bejaarde vrou wat hier na bewering oorval en vasgebind is, het moontlik haar lewe gered.
Sarel Marais, ’n kontrakteur wat die afgelope twee weke by mev. Maria Hunter (78) werk doen, het by haar huis aangekom terwyl twee mans nog binne haar huis was.

Mev. Hunter is vanoggend na bewering deur twee mans in haar huis op Jacobsdal oorval en vasgebind.
Bestiering van Bo
Marais sê dit was ’n bestiering van Bo. “Ek is besig om devil’s fork by die tannie se huis op te sit. Ek en my vrou, Yolanda, woon ’n paar strate hiervandaan. Gisteraand toe laai ek van die materiaal af en die tannie sê toe dis reg, ek kan eers vanoggend dit gaan opsit. Ek het ’n sleutel van die hekkie gehad en kon inkom, omdat die tannie baiekeer biduur bywoon en dan moet ek kan werk.”
Vermoed onraad
Marais het vanoggend ongeveer 08:20 by mev. Hunter se huis aangekom en gesien die hekkie is oop. Hy het ’n vreemde gevoel gehad en om die huis geloop. Die kombuisvenster en deur kyk uit op haar stoep. Hy kon in haar huis insien en het gesien die trollie waarop van haar besittings staan, is omgestamp. Die sekuriteitshek van die kombuisdeur was van binne af gesluit en hy kon nie inkom nie. “Dit het gelyk of daar ’n struweling was. Ek het omgehardloop en begin skree. Ek het die tannie geroep. Ek het by haar kamervenster geskree en geklop. Ek het haar gehoor mompel en geweet iets is nie reg nie. Ek het die graaf gegryp om die badkamerdeur te probeer oopbreek. Op daardie oomblik het die tannie die deur vir my oopgesluit. Haar badkamerdeur maak oop tot op die stoep.”

Sak inmekaar
“Sy het inmekaar gesak toe sy die deur oopmaak. ’n Elektriese koord wat om haar nek was het van haar lyf afgeval. Ek het haar opgetel. Sy sê my toe hulle is nog hierbinne. Ek het haar neergesit en die huis deursoek. Hulle was reeds by die voordeur uit. Dit het oopgestaan.”

Marais se skoonpa en van sy werkers was ook op die erf om toerusting af te laai.
Het gebid
Marais sê mev. Hunter het vir hom gesê sy het net gebid: “Here, laat Sarel asseblief kom.” Haar mond het gebloei en haar nek het seergekry. Sy het aan Marais gesê hulle wou haar verkrag en die een man het haar van agter af beetgekry. Marais het moontlik net op die regte oomblik daar opgedaag.
Marais se vrou het gehelp om die tou van die tannie se nek af te haal. “Die tannie sal nie ’n vlieg skade aandoen nie. Sy is ’n dierbare mens.”



Man wou koffie hê
Een van die twee mans wat haar vermoedelik oorrompel het, is ’n man wat in haar tuin gewerk het. “Hy het haar vir ’n koppie koffie gevra. Sy het vir hom oopgesluit en toe hy in die huis ingaan, het sy hom gevra wat doen hy in die huis? Die volgende oomblik het nog ’n onbekende man ingekom en haar oorrompel.”
Voordeur oop, toneel nie afgesper
Met FiND iT se aankoms by die huis net na 10:00 het die voordeur oopgestaan en twee polisiebeamptes was binne-in die huis besig om verklarings by Marais af te neem. Die polisie het die toneel verlaat, sonder om die toneel af te sper.

Marais sê die polisie ken die een verdagte. Mev. Hunter het glo aan die polisie gesê dis die man wat in haar tuin werk. “Die polisie het gesê hulle ken die man en sal hom nou gaan optel.”
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder vir Jacobsdal, het aan FiND iT gesê die polisie sal eers na 14:00 kan help
Konst. Edward Mafisa, by die polisiekantoor op Jacobsdal, het aan FiND iT gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.



