KIMBERLEY. – ER24 het die coolste app wat deur middel van drie woorde jou presiese koördinate weergee.
ER24, in samewerking met die tegnologie-onderneming, what3words, maak vinniger reaksietye moontlik.
What3words is ’n gratis program wat afgelaai kan word en ook aflyn gebruik kan word.
Hoekom is dit nodig?
Die gebruik van dié toep in ’n noodgeval gee die persoon ’n eenvoudige manier om presies te beskryf waar jy hulp nodig het.
Russel Meiring, ER24-nasionale woordvoerder, sê dit is nasionaal geïmplementeer, maar werk goed in die Kimberley- en Vrystaat-omgewings waar baie plase en plotte is. “Ons kry baie oproepe waar mense onseker is waar hulle is. Party is langs ’n pad soos die N12, maar hulle kan nie presies sê waar nie. Die toep maak dit maklik vir ons nooddienste om jou te vind.”
Hy sê dit is ook goed om te gebruik in plekke soos ’n mall of by rugbywedstryde. “Ouers kan dan maklik hulle kinders opspoor.
“In ’n mediese noodgeval is ambulans-reaksietyd van kritieke belang om lewens te red, maar nooddienste word gereeld gedwing om kosbare tyd en hulpbronne te mors om die persoon wat hulp nodig het, op te spoor. Daardie belangrike minute is die verskil tussen lewe en dood.
Hoe werk dit?
“Dit is nie soos ’n GPS-stelsel nie. Elke 3 m-area regoor die wêreld is op die toep en het sy eie spesifieke drie woorde. Indien iemand in ’n ongeluk is, kan hulle vir ons die drie woorde gee en op daardie manier sal ons jou dadelik kan opspoor.”
FiND iT het reeds die app getoets en ons kantoor se drie woorde is skoppe.artikels.rondloop.




