ROODEPAN – Eric R. Kok, talentvolle skrywer van Roodepan Stories, is Woensdagaand op pad huis toe beroof. Met stories soos Lena se Lot en Boeta, is Kok bekend in Roodepan vir sy kreatiewe skryfwerk.
Huis toe geloop
Kok vertel hy het vanaf die bushalte, by die inligtingsentrum, huis toe geloop. Hy vermoed die verdagte, wat hom beroof het, het hom ’n geruime tyd gevolg. “Ek was basies by my hek toe die voorval gebeur het. Hy het my gedreig met een van daai ou kombuismesse met die houthandvatsel.”
Wou hom doodsteek
Kok is van sy selfoon, oorfone en sy broer se skootrekenaar beroof. “Hy het vir my gesê as ek nie vir hom gee wat hy wil hê nie, hy my sal doodsteek. Toe ek die mes sien, het ek eerder maar my goed oorhandig.”
Wêreld op sy kop gedraai
Kok vertel sy wêreld is op sy kop gedraai. Hy kan niemand in die hande kry nie en niemand kan hom in die hande kry nie. Sy opdragte vir ’n werkswinkel wat hy bywoon, was alles op die skootrekenaar gestoor. Kok sê sy Roodepan Stories is ook vir eers op ys geplaas, omdat hy nie kan voortgaan sonder die skootrekenaar nie.
Veilige gebied
“Die gebied is gewoonlik veilig en stil. Ek het nie gedink só iets sal met my gebeur nie. Die polisie het nie vir my vinnig gereageer nie. Ek bly skaars 500 m van die polisiekantoor af en dit het hulle meer as ’n uur geneem om uit te kom.”
FiND iT het navrae aan die polisie oor die voorval gerig en wag vir terugvoer.



