KIMBERLEY. – Die departement van gesondheid ondersoek die aantygings teen ’n suster by die Phutanang-kliniek, nadat sy na bewering ’n pasiënt weggewys het omdat sy “honger” is.
Pasiënt weggewys
Kelebogile Boom (18) het verlede week na dié kliniek gegaan om medikasie te kry, maar is om 14:00 dié dag weggewys. Die suster aan diens het glo aan Boom gesê sy is honger en wil huis toe gaan. Daarom kon Boom nie gehelp word nie.
Aantygings word ondersoek
Lulu Mxekezo, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, sê hulle ondersoek die aantygings en gepaste optrede sal in werking gestel word ná die ondersoek afgehandel is. “Gesondheidspersoneel is altyd daartoe verbind om gesondheidsorgdiens aan alle pasiënte so professioneel moontlik te lewer.”
Sy sê die departement doen ook ’n beroep op pasiënte wat voel die gehalte van die gesondheidsorg is nie op standaard nie, om dié voorvalle onmiddellik by die bestuurder aan te meld, sodat dit so gou moontlik hanteer kan word.



