Studente “shutdown” Phatsimang-kollege oor ernstige griewe

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Studente van die TVET-kollege, in Phatsimang, Galeshewe, het vanoggend die kampus en koshuis oor verskeie griewe tot stilstand gebring. 

Mkhululi Mtonxa, voorsitter van die Suid-Afrikaanse studentekongres se tak in Phatsimang, sê die kollege is sedert verlede week se “shutdown” gesluit. Hy sê ’n memorandum is aan die bestuur van die kollege oorhandig. 

Ingryping nodig by TVET-kollege

Mtonxa vra dat leiers daar moet ingryp. Hy sê die bestuur van die nasionale finansiëlehulpskema vir studente (NSFAS) is besig om Phatsimang-studente te verdeel. Koshuisstudente het toelae ontvang, terwyl studente wat privaat  akkommodasie gereël het nog nie toelae ontvang het nie, en hulle sukkel om hulle huur te betaal, verduidelik hy.

Studente staak sedert 2018 oor kwessies soos wanbestuur

Na bewering word die instituut wanbestuur en is die kollegebestuur onbevoeg om hulle werk te doen. Mtonxa sê studente staak sedert 2018, maar hulle wag steeds op antwoorde.

Mtonxa doen ’n beroep op enigeen wat die studente kan help met oplossings vir die probleme wat hulle by die kollege ervaar, om na vore te kom.

“Hulle het hierheen gekom om onderrig te ontvang sodat hulle die nodige kwalifikasies kan ontvang om werk te kry.” Mtonxa sê hulle wil nie “shutdown” nie, maar hulle moet opstaan vir wat reg is vir die studente. 

Koshuisstudente kla oor omstandighede

Phako Segano, ’n student by die kampus en koshuis, sê daar is ernstige probleme by die koshuis, wat onder andere probleme met fasiliteite, sekuriteit en nepotisme insluit.

Segano het FiND iT op ’n toer van die kollege en kampus geneem. Hy sê daar word geen instandhouding gedoen nie en dit gaan agteruit. Volgens bestuur is C-blok  vir instandhoudingswerk gesluit, maar daar gaan niks aan nie. Dit, terwyl studente sukkel om verblyf te kry, sê hy. 

Studente sê daar is geen sekuriteit op kampus nie

Segano sê studente het nie toegang tot ’n kafeteria op die kampus nie. “Dit skep ’n risiko vir studente wat dan ver moet stap tot by ’n supermark of snoepwinkel om kos te koop.”

Die drein by ’n waterfontein en ’n toilet is geblok. Hy sê hy is bekommerd oor die higiëne en die gesondheid van studente by die kollege.

Segano kla ook dat studente met hulle punte gedreig word. Hy sê studente is daarom te bang om oor die probleme en nepotisme by die kampus te praat.