KIMBERLEY – ’n Paartjie is omstreeks 09:30 beroof toe hulle van Checkers New Park af huis toe geloop het. Twee mans het hulle aangeval en geen motor het gestop om te help nie, al het hulle probeer om mense se aandag te trek.
Peet (56) en Drienie (53) de Klerk, wat al 35 jaar in die stad woon, het vanoggend na Checkers gestap om vir hulle seun geld in te betaal. Drienie sê gelukkig het hulle reeds die geld inbetaal teen die tyd wat hulle beroof is.
Die paartjie was op pad terug huis toe. Drienie het gestaan en eet toe twee mans verby hulle loop. Hulle rûe was na die mans gedraai toe hulle aangeval word. “Die een met die grys sweetpak het my van agter af gegryp. Hy het sy hande in my sakke gedruk en my sleutels uitgeruk,” vertel Peet.
Drienie vertel dat sy in die pad in gehardloop het om karre te probeer stop, maar dat niemand wou stop nie en almal het net om haar gery. Gelukkig kon hulle die sleutels terugkry en niks anders was gesteel nie.
Die tweede verdagte was in swart geklee en het ’n swart en rooi hoed op gehad. Die mans het ná die aanval, by die Checkers-gronde inbeweeg.
Peet en Drienie sê hulle woon al 28 jaar in New Park en dinge was nog nooit so rof en erg soos wat dit die laaste ruk is nie. Hulle is veilig by die huis, maar net geskok.



