Klasse gaan voort na skool brand

Deel hierdie storie / Share this story

BRITSTOWN – Klasse het hervat nadat ’n brand op Maandag 26 Augustus by die Hoërskool Theron in Britstown uitgebreek het. Nege klaskamers, vier toilette, die kombuis en sewe stoorkamers is in die brand vernietig.

Leerders word in die agt klaskamers, biblioteeklokaal, personeelkamer, drukkamer, skoolsaal en in ‘n plaaslike kerksaal gehuisves. Die departement sal nege mobiele klaskamers en twee ablusiegeriewe voorsien as ’n tydelike oplossing en dit sal binne die volgende twee maande afgelewer word.

Leerders sal onderskeidelik Maandag en Dinsdag, 9 en 13 September, die vraestelle wat hulle gemis het, skryf.

Die LUR het ouers daaraan herinner dat hulle eienaarskap van ons skole moet neem om dit vir die komende geslagte te bewaar en te beskerm. Hy het benadruk dat skole ‘n spieëlbeeld van ons gemeenskappe is. As daar vandalisme of geweld in ons gemeenskappe voorkom, sal dit waarskynlik op ons skoolterrein voorkom. Skoolgemeenskappe en ouers moet hul rol in ons samelewing speel, aangesien ons huise die eerste instellings vir leer is.