Klinieksuster glo “te honger” om te help

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. –Kelebogile Boom (18) wat griep en mangelontsteking het, is gister Phutanang-kliniek toe om medikasie te kry, maar is weggewys. Die suster aan diens het glo aan Boom gesê sy is honger en wil huis toe gaan. Daarom kon Boom nie gehelp word nie.

Sharon van Staden, wat na Boom omsien, sê Boom het gisteroggend omstreeks 09:00 kliniek toe gegaan en het daar tot 14:00 gewag. “Ek moes by die werk wees en kon nie saam met haar kliniek toe gaan nie. ’n Suster het na haar toe gekom en haar teruggestuur huis toe en het gesê sy is honger en wil ook huis toe gaan.

Van Staden is baie ontsteld oor die voorval. “Ons weet nie wat om te doen of by wie om ’n klag te lê nie. Ek voel mense kan nie so behandel word nie. Dinge moet begin verbeter.”

Lulu Mxekezo, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, sê hulle sal Sharon kontak om die nodige inligting te kry sodat hulle die saak kan ondersoek.