Eerste mnr. Addie óóit – Armand Smit

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Armand Smit het die eerste seun in Hoërskool Adamantia se geskiedenis geraak wat die titel van Mnr. Addie verwerf het.

Gemeenskapsprojek

As deel van sy gemeenskapsprojek het hy tafels en bankies uit hout gebou en by die skool opgerig sodat die kinders wat ná skool vir hulle ouers wag, solank huiswerk kan doen. “Seuns kon sulke tipe projekte doen en daarom wou ek iets vir die skool doen. Ons het twee groot tafels gebou en 26 bankies, wat ons in die grond vassement het.”

“Ek het ook die projek aangepak omdat daar so ‘n ruk gelede ’n leerder buite die skool beroof is. Die tafels en bankies is binne die skoolterrein, so dit is nou baie veiliger vir die leerders. Baie kinders het ook ná skool op die grond gesit en wag, so nou hoef hulle nie hulle skoolklere vuil te maak of te verniel nie.”

Hy sê hy was so geskok toe sy naam gelees word as Mnr. Addie 2019. “Dit is iets wat ek nie in my wildste drome sien kom het nie. Dit was regtig ’n wow-oomblik. Hulle het eerste en tweede prins gelees en op daardie oomblik het ek gedink my kans is reeds verby. Ek kon dit nie glo toe my naam gelees is nie.”

Houtwerk

Armand moet nog sy matriekjaar volgende jaar voltooi, maar het sy toekoms reeds uiteengesit. “Ek is mal daaroor om met my hande te werk en het ses jaar gelede begin met houtwerk. Ek bou baie goedjies, maar my tyd is baie beperk, so ek gaan ná skool ’n paar jaar vat om aandag aan al die goed te spandeer. Daarna wil ek my rooi seël in houtwerk kry en saam met my pa begin werk.”

Geskiedenis

Net soos houtwerk is hy mal oor geskiedenis en is baie hartseer dat geskiedenis, as ’n skoolvak, weggeval het. “Ek dink te min kinders het regtig ’n belangstelling in geskiedenis gehad, maar geskiedenis leer jou wie jy is en waarvandaan jy kom.”

Inspireer ander

Hy sê hy gaan steeds aanhou om te probeer goed doen in die gemeenskap, want sy verantwoordelikheid hou nie op net omdat die kroning verby is nie. “Dis belangrik om ’n voorbeeld te stel, want dalk inspireer dit ander kinders om ook meer betrokke te raak en te help.”