Drie keer wenner – Johané van Aswegen

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Johané van Aswegen is as Mej. Addie 2019 aangekondig en sy kon nie meer verbaas wees nie.

Gemeenskapsprojek

As deel van haar gemeenskapsprojek het sy vir die 28 kinders by Christina Kiddie kinder- en jeugsorgsentrum nuwe beddegoed en kussings gekoop. “Ek wou gaan sien hoe dit met hulle gaan en alhoewel al die kinders baie goed versorg is, wou ek vir hulle iets spesiaal doen. Baie van die ouer kinders het nog beddegoed gehad wat vir baie jonger kinders as hulle ouderdomsgroep is. Ek hou daarvan om tyd in my kamer te spandeer, so ek het toe besluit om geld in te samel om vir elkeen ’n stel beddegoed te koop sodat hulle ook trots kan wees op hulle kamers.”

Sy sê sy het tydens die kroning gedink sy kan nie meer as een titel wen nie en het dus reeds vrede gemaak dat sy nie die aand as Mej. Addie gaan afsluit nie. “Toe hulle my naam roep, was ek so geskok. Ek kon dit nie glo nie! Ek het myself probeer kalm hou en het eintlik eers die volgende dag besef ek het die titel gewen.”

Kritiek

“Ek het sedert die kroning baie kritiek ontvang, maar probeer my nie daaraan steur nie, want ek weet die besluit was nie myne nie, maar die beoordelaars s’n.”

Toekomsplanne

Alhoewel sy nog volgende jaar haar matriekjaar moet voltooi, weet sy klaar wat sy ná skool wil doen. “Ek wil graag by die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer om ’n oogkundige te word. Indien ek nie daardie rigting inslaan nie, wil ek in enige ander mediese rigting ingaan.”

Steeds ’n voorbeeld wees

“Ek voel alhoewel die kroning reeds verby is, moet ons aangaan om te help waar ons kan. Ons moet steeds ’n voorbeeld vir ander wees. Ek is tans besig om fondse in te samel vir Christina Kiddie. Hulle wil graag al die kinders see toe neem en ek wil graag help waar ek kan.”