Vrou beland amper in oop mangat

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Vrou in haar veertigs het vanmiddag amper in ’n oop mangat geval.

Dora Pretorius (62), ’n inwoner van Beaconsfield wat meer bekend staan as Ouma, het dit sien gebeur.

Die gat is op die hoek van Stanleystraat en Mainweg.

“Die vrou het saam met haar seun van die taverne se rigting gekom toe sy haar ewewig verloor en amper in die mangat val. Haar seun het haar uit die pad geruk voor sy geval het.”

Sy sê sy het dit reeds meer as ’n maand gelede aan ’n DA-lid rapporteer, wat dit ook aan die Sol Plaatje-munisipaliteit gerapporteer het.

“Die stukke van die deksel was gebreek en het regop gestaan. Dit is baie gevaarlik. Hier stap baie kinders en oumense rond, wat maklik hulle ewewig kan verloor en daarop val.” Dié stukke lê nou binne-in die mangat.

“Die area was altyd so mooi skoon en op standaard, maar nou het dit net walglik geraak. Op daardie hoek het ons al menige male inspuitingnaalde, sanitêre doekies en kondome gekry.”

Mev. Thoko, van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê sy sal met die departement wat in beheer is van die instandhouding hiervan, in verbinding tree oor hoe spoedig hulle dié drein se deksel kan vervang.