KIMBERLEY. – Ses verdagtes wat vermoedelik betrokke is met motordiefstal, is hier in hegtenis geneem.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes is by hulle huise in Roodepan, Galeshewe en Modderrivier in hegtenis geneem.
“Die verdagtes is vanoggend vroeg in hegtenis geneem tydens ‘n klopjag van die polisie se motordiefstal-ondersoekeenheid. Die ondersoek behels motordiefstal oor die afgelope 12 maande.”
Die verdagtes word met meer as 10 motordiefstal-sake in Kimberley verbind.
“Een van die verdagtes het reeds in die hof verskyn, aangesien daar ‘n lasbrief uit was vir hom. Die ander verdagtes, tussen die ouderdomme van 22 en 41 jaar oud, sal binnekort in die landdroshof verskyn.
Maj. gnrl. Koliswa Otola, waarnemende provinsiale kommissaris, het die polisielede geprys vir hulle goeie werk.



