Vertoon van ou Suid-Afrikaanse landsvlag is haatspraak

Deel hierdie storie / Share this story

Die gelykheidshof van Suid-Afrika het bevind die vertoon van die ou landsvlag van Suid-Afrika is gelyk aan haatspraak, teistering en onregverdige diskriminasie.

Die Nelson Mandela-stigting (NMS) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) was die aansoekers in die saak.

Die vlag mag slegs vir kunswerke, akademiese navorsing en joernalistieke doeleindes gebruik word.

Regter Phineas Mojapelo het vandag dié uitspraak gemaak en gesê die tentoonstelling van die vlag doen skade.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, sê die uitspraak ondermyn vryheid van uitdrukking en is ’n eensydige besluit wat versoening en nasiebou in Suid-Afrika ondermyn.

“Die ontstaan van die nuwe bedeling in Suid-Afrika was gegrond op nasiebou en versoening. Om dit nou weg te kalwe, is gevaarlik en dien geen doel nie. Die ou landsvlag is deel van die land se geskiedenis, net soos die ANC-vlag waaronder vele gruweldade gepleeg is.”

Mulder sê aan die geskiedenis kan nie verander word nie. “Om ’n vlag wat vir ’n sekere deel van die bevolking groot waarde inhou, nou tot haatspraak te verklaar, gaan niks daaraan verander nie. Hierdie uitspraak skep ’n gevaarlike presedent. Wat van die Britse vlag waaronder tienduisende wit- en swart mense in konsentrasiekampe gesterf het? Om nie te praat nie van die ou vlag van die Sowjet Unie wat deur die SAKP voorgehou word en waaronder miljoene gesterf het.”

Mulder sê Suid-Afrika se howe moet hulle by die reg hou en nie ingetrek word in die moeras van morele oordele nie.

“Nasiebou is nie om een se wil op ’n ander af te dwing nie. Dit versoen nie, dit skeur in twee. Dit is al wat hierdie uitspraak gaan bereik.”

Solly Malatsi, nasionale woordvoerder vir die DA, sê die party glo die demokratiese landsvlag moet as ’n simbool van hoop vir ’n beter toekoms staan.

“Die DA neem kennis van die uitspraak, maar ondersteun nie ’n totale verbod nie. Die apartheidsvlag vorm deel van ons pynlike geskiedenis en moet gebruik word om mense in te lig. As die vlag verban word, sal dit ons toekomstige generasies ontneem van die volle geskiedenis van ons land. ’n Geskiedenis wat ons nie kan vergeet nie. Daarom moet dit nog gebruik kan word vir akademiese navorsing en ook as joernaliste daaroor skryf.”

Malatsi sê die party is bedag daarop dat sommige mense die ou Suid-Afrikaanse vlag misbruik en terugval in rassisme.