KIMBERLEY – Lede van die Kimberley-polisie het twee vermeende rowers in hulle spore gestop nadat hulle ’n man (26) in Kimdustria aangeval het.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Kaap, sê lede van die provinsiale grenspolisie het omstreek 09:55 op die toneel afgekom.
Een verdagte is deur die polisiebeamptes ontwapen en die ander een het weggehardloop. Bystand is ontbied.
Die een verdagte, ’n 25-jarige man, is op aanklag van diefstal in hegtenis geneem. Die slagoffer se selfoon en kontant is in sy besit gevind.
Kock sê die verdagte gaan binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.



