KIMBERLEY. – Hoërskool Adamantia se bekende Mnr. en Mej. Kroningsaand is om die draai.
Dié aand vind Vrydag 23 Augustus 2019 plaas.
Hier is die laaste twee finaliste wat deelneem aan die gemeenskapsprojek.
Tiaan Erasmus
Hy sê hy is ’n groeiende jong man wat ’n liefde het vir die natuur en sy Hemelse Vader. “Ek probeer my bes om elke dag my Christelike waardes tot die beste van my vermoë uit te leef.
“As ek om mense is, kan ek net myself wees en my persoonlikheid na vore bring. My happy place is as ek besig is met enige iets wat met musiek te doen het. Ek probeer om so ver moontlik betrokke te wees by die skool en in die gemeenskap.”
Hy sê sy liefde vir die natuur en mense het ontstaan toe hy 12 jaar terug by die Voortrekkers aangesluit het. “Ek het hier ook geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer.”
Sy slagspreuk in die lewe is “aanhouer wen solank jy vertrou op die Here”.
Will-Marie Langeveld
Sy sê sy hou heeltemal te veel van sjokolade en mooi klere. “My vriende en familie is vir my baie belangrik en dit is vir my die lekkerste ding op aarde om saam met hulle tyd te spandeer.”
Will-Marie sê sy het ingeskryf vir Mej. Addie om ’n verskil te maak, al is dit net vir ’n paar minute. “’n Mens besef nie altyd dat die kleinste goed, die grootste verskil maak nie.
“Die van julle wat my ken sal weet hoe belangrik dit vir my is om ’n glimlag op iemand se gesig te sit. Maak nie saak tot watter uiterste ek moet gaan om dit te laat gebeur nie.”
Sy sê respek en hardwerkendheid is ’n groot faktor in haar lewe. “Ek glo met dit sal ek my toekomsplanne kan bereik.”



