Werkswinkel vir wêreldborsvoedingsweek

Deel hierdie storie / Share this story

Wêreldborsvoedingsweek word gewoonlik wêreldwyd op 1 – 7 Augustus gevier.  Elke jaar is daar ‘n spesifieke tema vir daardie spesifieke jaar. Dié jaar is die tema Empower parents, enable breastfeeding. Die hele Augustusmaand word gebruik om borsvoeding in die kollig te plaas. 

Om ondersteuning te bied, het die Northern Cape Nutrition Forum besluit om ‘n borsvoedingswerkswinkel vir gesondheidswerkers aan te bied.  Gesondheidswerkers is uitgenooi om die sessie by Lenmed Royal-hospitaal en -hartsentrum op 17 Augustus 2019 by te woon.  Die sessie word gelei deur suster Hettie Grove, ‘n internasionaal gesertifiseerde borsvoedingskonsultant.

Die tema is vanjaar so gekies dat dit alle tipes ouers of oppassers insluit.  Die fokus is daarop gemik om beide ouers te bemagtig om sodoende hulle borsvoedingsdoelwitte te bereik en te verseker dat alle babas die beste moontlike voeding ontvang.

Bewese inligting word gegee om te verseker dat die omgewing waarin moeders borsvoed ondersteunend genoeg is om optimale borsvoeding te verseker.  Dit is die moeders wat borsvoed, maar wanneer sy die nodige ondersteuning ontvang van vaders, lewensmaats, families, werksplekke en gemeenskappe, kan dit die borsvoedingservaring verbeter. 

Die hele gemeenskap moet hierdie proses ondersteun, aangesien borsvoeding ‘n spanpoging is. Om optimale borsvoeding te verseker, moet ons almal borsvoeding beskerm, bevorder en ondersteun.