Gat in selle – verdagtes “kom en gaan”

HARTSWATER. – Die gemeenskap van Hartswater het gister voor die polisiekantoor hier saamgetrek en wou by die polisie weet hoekom hulle sulke “swak diens” ontvang.

Die klagtes sluit in swak diens by aanklagkantore, verdagtes wat vrygelaat word sonder verhoor, speurders wat nie sake opvolg nie en verskeie ander klagtes wat die gemeenskap raak.

Na die vergadering het dit aan die lig gekom dat daar glo ’n gat in die aanhoudingselle is waardeur verdagtes kan glip. Dié gat is so groot soos ‘n skoenboks. Dit beteken hulle kan in en uit die aanhoudingselle gaan soos dit hulle pas. Vier verdagtes het die naweek deur dié gat ontsnap en slegs drie van die vier is intussen weer aangekeer.

Inwoners het aan FiND iT gesê die verdagtes glip tussen 20:00 en 21:00 uit en kom weer tussen 03:00 en 05:00 terug. “Hulle kom kuier sommer nou en dan by ons. Hulle is in die dag in die selle. In die nag kom hulle uit en gaan kuier in Bonita-park. Die ander spanne gaan na ander manne se vrouens. Hulle is terug wanneer hulle moet getel word.”

Die inwoners sê daar is geen toesig nie. “Die polisie-beamptes sit net daar. Hulle slaap. Hulle kyk nie in die nag nie. As hulle terugkom, slaap hulle steeds!”

Van die verdagtes verkoop ook glo van die gesteelde goedere in die dorp. “Hulle verkoop die splinternuwe Puma-tekkies. Die polisiemanne eet saam.” Een van dié verdagtes is Maandagaand deur die polisie en die buurtwag, gevang, maar hy is Dinsdagoggend laat gaan.

Die buurtwag van Hartswater is bekommerd oor dié verwikkelinge en sê daar moet verandering kom by die polisiekantoor. “Die polisie doen nie hulle werk nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: