KIMBERLEY. – Daar is net nog ’n paar dae oor voor die Mnr. en Mej. Addie!
Hierdie kroningsaand is die hoogtepunt in die skoolloopbaan van baie leerders in Hoërskool Adamantia. Hier is nog vier van die finaliste.
Kobus van Eeden
Kobus sê hy het ingeskryf vir Mnr. Addie omdat hy graag nuwe mense wil leer ken en ’n verskil in sy gemeenskap wil maak op enige manier moontlik. “Ek hou baie van die natuur en die buitelewe. Ek is ’n familiepersoon en ag familie bo alles.”
Hy sê hy is ’n maklike mens en dis vir hom belangrik om na ander mense te luister. “Ek geniet dit om tyd saam met my familie te spandeer. Ek is beslis ook ’n musiekliefhebber. Ek geniet dit nie net om na musiek te luister nie, maar speel ook klavier en saksofoon. Ek druk myself beter uit deur musiek en sal musiek ook gebruik om myself beter te beskryf.”

Rodene Pondoyi
Rodene het ingeskryf vir Mej. Addie omdat sy ’n verskil wil maak in ander se lewens en wil leer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer. “Ek hou daarvan om by baie mense te wees en geniet dit om nuwe dinge te leer. Ek geniet dit om netbal te speel en is altyd net myself.”
Sy sê baie mense het haar al gevra wie haar rolmodel is. “Om eerlik te wees, het ek nie een nie, want ek wil vir myself ’n voorbeeld stel en probeer om die beste ek te wees wat ek kan wees.
“My leuse in die lewe is: ‘As die lewe vir my lemoene gee, maak chocolate koek en laat die mense wonder hoe.’”
Sy sê sy probeer altyd om die beste in mense te sien en al is sy hoe hartseer, probeer sy altyd om iemand anders te laat glimlag.

Matthew Weber
Matthew sê hy is ’n blondekop, blou-oog seun wat mal is oor die natuur en is baie lief vir sport.
Hy sê sy rolmodel is sy pa. “Hy is die man wat ek eendag wil wees.
“Ek het ingeskryf vir Mnr. Addie omdat ek baie mense daar buite en selfs ook mense naby aan my se lewens wil verander. Ek wil ook so lewe dat mense sal besef die Here is by elkeen van ons en dat Hy ons elkeen lief het.
“Dit is ek, Matthew Weber. Kort en kragtig.”

Shannet du Plessis
Shannet sê sy het ’n groot passie vir geestelike werk en is glad nie skaam om te sê sy is ’n trotse kind van God nie.
“Ek hou van slaap, koffie drink en lief vir ’n kaas-en-stroopbroodjie. Ek is ’n sagte mens met ’n groot hart.”
Sy sê sy het ingeskryf vir Mej. Addie omdat sy haar skoonheid van binne wil wys. “Die feit dat ek van myself kan teruggee aan die gemeenskap, maak hierdie die moeite werd. Ek wil my tyd, eerder as geld, teruggee aan die gemeenskap, dus staan my projek bekend as ‘Wat geld nie kan koop nie’.
“Ek wil op ’n persoonlike en geestelike vlak met mense werk.”
Sy sê haar rolmodel is haar ma, Sonette. “Sy is een van die sterkste vrouens wat ek ken. Sy staan nooit terug om te help nie en haar verhouding met die Here is iets waarna ek opkyk. Haar familie en die Here kom altyd eerste. Ek is bly sý is mý mamma.”




