NOORD-KAAP. – ’n Onlangse berig in ’n Engelse dagblad oor grondonteiening het plaaseienaars in die Noord-Kaap weer aan die gons.
Dirk Krapohl, bedryfsbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê hulle is nie bewus van enige nuwe lyste wat die omgang doen oor grond onteiening nie. “Ek dink dit is ’n ou lys wat weer sy kop uitsteek.”
FiND iT het ook bevestiging by Lize-Mari Smit van AfriForum in die Noord-Kaap hieroor gekry. “AfriForum-hoofkantoor is nie bewus van ’n nuwe lys wat gesirkuleer word nie.
“Indien daar enige boere is wat bekommerd is hieroor, kan hulle ons enige tyd kontak vir raad of bystand of as hulle sukkel met iets. Ons help graag waar ons kan.”
’n Plaaseienaar wat onlangs sy plaas verkoop het en wat anoniem wil bly weens die sensitiwiteit van die saak, sê meeste van die plase het baie werknemers in ‘n intensiewe boerdery en was oor die afgelope 20 jaar swaar geteiken deur die staat. “Dit is ook moontlik dat die plase in die verlede aan die staat te koop aangebied is.”
Finale verslag
Die minister van landbou en grondsake, Thoko Didiza, het wel ’n finale verslag ingedien van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou. Hier is ’n paar aspekte wat bespreek is:
• Onteiening van grond sonder vergoeding: Ons onderskryf die voorgestelde beleidsverskuiwing om die bepalings van die Grondwet te gebruik om grond sonder vergoeding te onteien. Die meerderheidsopvatting op die paneel is dat dit ’n onontkombare feit is dat Artikel 25 van die Grondwet vergoedingsgerig is. Met ander woorde, die idee en oorsprong van ‘onteiening’ kom van globale voorbeelde waar dit onlosmaaklik gekoppel is aan een of ander vorm van vergoeding.
Die paneel het dus ’n voorstel vir ’n grondwetlike wysiging aangebied wat duidelik maak dat grondonteiening sonder vergoeding onder beperkte omstandighede nodig mag wees, maar beslis om die doelstelling van grondhervorming te verhef.
Die Staat is reeds ingevolge Artikel 25 van die Grondwet gemagtig om grond vir grondhervormingsdoeleindes te onteien, maar is verplig om “regverdige en billike vergoeding” te betaal. Die vraag of en wanneer sulke vergoeding op nul gestel kan word, was die afgelope 18 maande die onderwerp van debat.
Daar was verskillende sienings deur die paneel oor die noodsaaklikheid van grondwetlike wysiging. Die Parlement het reeds gestem om die Grondwet te wysig en ‘n komitee is aangestel om die aard van só ‘n wysiging voor te stel.
• Oor stedelike grondhervorming: ons stel voor dat grondhervorming uitgebrei word na stedelike gebiede, met die doel om inklusiewe dorpe en stede te bou waar alle inwoners billike en veilige toegang tot grond het, vir behuising, besighede, ontspanning en ander gebruike.
Ons doen ‘n beroep op die regering om ‘n beleid vir stedelike grondhervorming op te stel en proaktiewe stappe te neem om goed geleë, onderbenutte of ondoeltreffend gebruikte stedelike grond en geboue (insluitend staatsbeheerde en staatshuurgrond) te oudit en te herverdeel. Dit kan bydra tot die oorkoming van die land se ruimtelike ongelykheid van apartheid; die sosiale, historiese en transformerende waarde van grond bo sy kapitale batewaarde te prioritiseer in besluite oor die gebruik, huur, oordrag en vervreemding van grond wat deur die staat en ondernemings in staatsbesit is.
Die regering moet reageer op die groei van informele nedersettings en besettings in die middestad waar grond of eiendom reeds gevestig is, deur ‘n “off-register”, minder “formele” grondregte op te neem en bewoners ‘n bewys van verblyf te gee; en die voorsiening van alternatiewe akkommodasie waar uitsetting lei tot haweloosheid, insluitend die vorm van bekostigbare huurprogramme in goed geleë gebiede.
Hier is die adviespaneel oor grondhervorming
- Dr. Vuyokazi (Vuyo) Mahlati (voorsitter) – lid van die Nasionale Beplanningskommissie en president van die African Farmer’s Association van Suid-Afrika.
- Prof. Ruth Hall, ‘n navorser en professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Instituut vir Armoede, Land en Agrariese Studies.
- Prof. Mohammed Karaan, professor in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
- Adv. Tembeka Ngcukaitobi, ‘n prokureur, openbare spreker en skrywer wie se huidige werk vir die Legal Resources Centre en Johannesburg Bar oor publiekreg, arbeidsreg en mededinging strek.
- Me. Bulelwa Mabasa, ‘n toegelate prokureur met meer as 16 jaar ervaring.
- Dr. Thandi Ngcobo, uitvoerende hoof en stigter van die Dr J L Dube Instituut van die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat uitgebreide navorsing oor grond en onderwys en kapasiteitsontwikkeling gedoen het.
- Mnr. Wandile Sihlobo (landbou-ekonoom) is die hoofekonoom van die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika.
- Mnr. Dan Kriek is ‘n Vrystaatse boer en president van AgriSA wat glo in progressiewe strategieë en visies om eenheid in die landbou te bewerkstellig.
- Mnr. Thato Moagi is ‘n jong opkomende boer en entrepreneur met ses jaar ervaring in bestuur en organisatoriese administrasie.
- Mnr. Nick Serfontein is voorsitter van die Sernick Group, wat 550 mense in diens het, en hy het ‘n B.Sc. Ingenieurswese van die Universiteit van Pretoria.



