KIMBERLEY. – Honderde mense het geklee in swart by die Galeshewe-sirkel bymekaargekom, om hulle ongelukkigheid oor al die misdaad weer te gee.
Die Silent March het gister om 17:00 begin. Die stappers het tot by die Witdam-polisiekantoor in Galeshewe gestap.
Talle mense het borde omhoog gehou vir geliefdes wat vermis of vermoor is.
Kelebogile Olyn (24), een van die stappers, het haar broer vroeër vanjaar verloor toe hy vermis geraak het. Sy liggaam is later gevind. “Ek voel ek moet hier wees, alhoewel dit nie in Kimberley gebeur het nie.”

“Ons is moeg vir die misdaad en vir die regstelsel,” sê Kediemetse Smith, wat daar was om haar ongelukkigheid te kenne te gee.
Mittah Modise, die tannie van Tsepiso Thompson, wat vroeër vanjaar vermoor is, was ook deel van die skare. Hulle het hom vir sy skoene en baadjie vermoor. “Ons het eers vir Boniface Ndlovu aan die dood afgestaan nadat hy my kind huis toe vergesel het en kort daarna het ons vir Tsepiso verloor.”
Gemeenskapslede het ook saam kom stap om hulle ondersteuning te wys. “Ek is hier om die families en gemeenskap wie se kinders of geliefdes vermis word of wat vermoor is, te ondersteun,” sê die 34-jarige Nthabiseng Makoti.





