KIMBERLEY. – FiND iT is hier om te bly en beywer hom vir gratis nuus vir almal. Die lamppaal-borde gaan nêrens.
Só het Rudi Ferreira, bedryfshoof van FiND iT, bevestig nadat ‘n Engelse dagblad berig het FiND iT se borde op lamppale is “onwettig”.
“FiND iT staan vir persvryheid en is geregistreer as ‘n wettige nuus-medium. Dit is hartseer dat ‘n dagblad foutiewelik inligting met vermeende voorbedagte rade gepubliseer het, net om FiND iT by te kom.”
Dit volg nadat ‘n plaaslike dagblad ‘n berig geplaas het waarop aangevoer word FiND iT se borde op die lamppale in die stad is onwettig.
Sello Matsie, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê álle nuus-instansies in Kimberley is vermaan om van vooraf aansoek te doen vir derde party advertensies op lamppale.
“Die nuus mag deur die onderskeie instansies, insluitend FiND iT, op lamppale deurgegee word. Dit is nie onwettig nie. Ons was nie bewus van al die feite toe navrae aan die munisipaliteit gerig is nie.”
Matsie kon nie verduidelik hoekom die publiseerder van die artikel nie ander nuus-instansies in die artikel genoem het nie. “Die munisipaliteit sal álle onwettige advertensies – waarvoor nie aansoek gedoen is nie – verwyder.”
Ferreira sê FiND iT is nooit vir kommentaar genader nie. “Persvryheid moet te alle tye beoefen word, maar verantwoordelik, objektief en akkuraat.
“Alle nuus-mediums, insluitend die einste dagblad, het ‘n brief van die munisipaliteit ontvang. Almal is daaraan herinner dat alle buitelug-advertensieborde onderhewig is aan die verordeninge wat deur die munisipaliteit voorgeskryf word. Daar is egter nie ’n tydperk of kennisgewing uitgereik oor wanneer die borde in plek moet wees nie. FiND iT is in die proses om aansoek te doen.”
Ferreira sê FiND iT het nie ‘n kennisgewing ontvang om die borde te verwyder nie. “Dus sal die borde bly tot en met die direktoraat van strategie, ekonomiese ontwikkeling en beplanning anders besluit – dit geld vir alle media.”
Ferreira sien die insident as positief. “Die terugvoer aan FiND iT wys ons is reeds as nuus-medium in Kimberley gevestig. Die mense maak FiND iT hulle eie. Ons sal aanhou werk om te doen wat ons goed doen.”
Alle navrae kan aan Ferreira persoonlik gerig word by 071 686 7200.



