Adamantia stel die week vyf van die Mnr. en Mej. Addie-finaliste bekend.
Hoërskool Adamantia se kroningsaand vind op 23 Augustus 2019 plaas. Kaartjies vir die aand, teen slegs R30, is reeds by die skool en die finaliste beskikbaar. Daar is altesaam 27 finaliste waarvan 13 seuns en 14 meisies is.
Chené Stenekamp
Chené (17) sê haar deelname aan Mej. Addie help haar om geleenthede raak te sien waar sy ’n verskil in die gemeenskap kan maak.
“Mej. Addie het my gehelp om myself beter te leer ken. Ek het ontdek dat ek tot meer in staat is as wat ek gedink het. Ek glo die liefde en omgee wat ’n mens gee altyd mense laat glimlag.”
Sy sê sy glo dit is die klein dinge in die lewe wat werklik saak maak. “Ek is ’n saggeaarde, liefdevolle jong dame. Ek het nie baie woorde om myself te beskryf nie, want ek is ’n eenvoudige meisie wat glo dat die Here werklik ’n verskil maak!”

JJ du Toit
JJ (17) sê hy is ’n plat op die aarde mens en dat hy baie van die natuur en die plaaslewe hou. “Ek is mal daaroor om tyd saam met my familie en vriende deur te bring. Rugby en motorfietsry is my gunstelingstokperdjies.
“My pa is vir seker my rolmodel. Ek wou van kleintyd af ’n polisieman word, net soos my pa. Hy was nog altyd daar vir my, maak nie saak wat nie.”
Hy sê hy het ingeskryf vir Mnr. Addie om vir kinders te wys dat jy die skool vir jouself lekker moet maak en aan soveel as moontlik moet deelneem.
“Dit is ook natuurlik belangrik om ’n verskil in ander se lewens te maak, maak nie saak waar jy gaan of wat jy doen nie.”

Nadine van Heerden
Nadine (15) is baie lief vir musiek. “Een van my grootste passies is om te sing. Ek probeer altyd my beste om sukses te behaal en ek wil altyd ander mense help.”
Sy sê sy hou daarvan om mense se dag op te kikker. “Ek het ingeskryf vir Mej. Addie, want ek glo dit sal my help om myself te vind en so kan ek ook ander help om hulleself te vind.”
Michael Jackson is haar rolmodel. “Hy het die wêreld ’n beter plek probeer maak en ons almal probeer leer om saam te staan en ‘We are the World’ te sing.

Joshua Wilson
Joshua (18) sê hy het ingeskryf omdat hy ’n verskil in ander se lewens wil maak. “Ek hou daarvan om tussen mense te wees en is definitief ’n familie-persoon.”
Hy sê hy hou daarvan om te dans, veral om vas te dans.
“Vir my Mnr. Addie-projek samel ek Bybels in vir mense wat nie bevoorreg is om die Woord van God te lees nie.”
Hy is ook betrokke by die skool se noodhulp.
“My ma is my rolmodel, want sy het my geleer al gaan ’n mens deur moeilike tye, daar altyd ’n uitweg is.

Re-Hanna Fouche
Re-Hanna (15) beskryf haarself as ’n avontuurlustige mens wat hou van die buitelewe. “Ek het ’n passie en liefde vir diere.”
Sy speel graag netbal en sê sy hou daarvan om in ’n span te werk.
“My gemeenskapsprojek is Destiny House. Ek het vir minderbevoorregte kinders skryfbehoeftes ingesamel sodat hulle ook kan skool toe gaan en die nodige skryfbehoeftes het.
“Verder het ek ’n sopkombuis gehou waar ek talle mense op straat kos gegee het.” Sy sê haar hart breek vir mense wat swaarkry, veral as sy niks daaraan kan doen nie.
“Mej. Addie het my die kans gegee om te help. Ek het groot drome in my hart en hoop ek kan eendag almal waar maak.”




