Barry Downs (75) van Kimberley vertel aan FiND iT sy storie van hoop om ander mans te inspireer om gereeld vir ‘n mediese ondersoek te gaan.
Prostaatkanker
Downs en sy vrou, Gill (64), het in 2007 ‘n gesprek oor versekering gehad, toe Gill vir hom vra wanneer laas hy by ‘n dokter vir ‘n roetine-ondersoek was. Hy was laas in 1985 by ‘n dokter en Gill het die volgende dag vir hom ‘n afspraak gemaak.
Downs is in April 2007 gediagnoseer met prostaatkanker en omdat dié kanker al baie ver gevorderd was, moes hy in Bloemfontein bestraling ontvang. “Omdat daar nie iemand in Kimberley was wat in daardie stadium die gevorderde kanker kon behandel nie, moes ek vir sewe weke lank op en af ry Bloemfontein toe vir behandeling,” sê Downs.
Ná sy bestraling het hy weer sy dokter gaan sien en al sy vlakke het teen Januarie 2008 na normaal toe teruggekeer. Alhoewel hy verlig was dat die kanker weg was, het die intensiewe bestraling probleme veroorsaak.
Verdere probleme
Hy het verdere behandeling in Kimberley ontvang, maar dit was onsuksesvol. Hy was vir ‘n tydperk bedlêend. Hy is weer Bloemfontein toe vir hulp en was onmiddellik deur ‘n chirurg vir ‘n operasie opgeneem, min wetend dit sou tot vier ander operasies lei.
In vier weke se tyd het Downs vyf operasies ondergaan. Vier van die operasies was om septisemie onder beheer te bring en die finale operasie was om sy kolon te verwyder. Hy het 20 kg in hierdie tydperk verloor en dit het hom 18 maande geneem om te herstel. “Ek onthou spesifiek toe ek in die gang voor die teater lê en wag het op die vierde operasie, het ek by myself gedink dit sou beter wees vir almal as ek nie lewendig daar uitkom nie. Toe ek ná die operasie wakker word, het ek besef dat ek nie so kan dink nie. Ek sal moet positief bly. Ek kan nie myself jammer kry nie. Dit was soms baie moeilik om nie op te gee nie, maar ek het positief gebly en my sin vir humor behou. Ek het nog 10 jaar lank ‘n goeie lewe gehad, wat ek nie sou gehad het as ek opgegee het nie.”
Nierkanker
In Augustus 2018 het Downs met rugpyn hospitaal toe gegaan en is vir longontsteking opgeneem. As standaardprosedure is daar X-strale van sy longe geneem. Die dokter het bevind dat hy nierkanker het. Hy moes weer in Bloemfontein behandeling kry en het ‘n operasie ondergaan om die helfte van sy een nier te verwyder. Hierdie keer was hy net vir ‘n week in die hospitaal, maar hy het steeds ‘n paar weke geneem om te herstel.
Ondersteuning
“Ek het baie ondersteuning van familie en vriende ontvang. My vrou was my rots en my anker deur alles. My twee dogters het my ook baie ondersteun. Ek het nooit daaraan gedink dat my vrou dalk deur meer drama en seer gaan as ek nie. Sy moes my versorg, voltyds werk en die huis en die gesin versorg. Sy het ook deur baie emosionele onrus en stres gegaan.”
Hoop vir ander
“Ek wil graag mans aanmoedig om jaarliks of so gereeld as moontlik vir ‘n ondersoek te gaan. Moenie bang of skaam wees om hulp te vra nie. Dit kan met enigiemand gebeur. As ek nie so lank gewag het nie, was my kanker dalk nie so aggressief nie en kon ek baie vroeër behandeling kry. Indien jy reeds in die bootjie is, wees positief. Behou jou sin vir humor. Onthou ook dat die mense om jou ook soms swaar kry. Ek is baie gelukkig om vandag nog hier, gesond en fiks, te wees. Wees dankbaar vir elke dag.”


KANSA Blou Cuppa Vir Mans
Ons het almal ‘n pa, man, seun of manlike kollega vir wie ons omgee.
CANSA het hulle CANSA Blue Cuppa For Men op Vrydag – 19 Julie 2019
Tyd – 12H00 – 14H00.
Protea Hotel By Marriott Kimberley. …
Vir slegs R150 kan jy in daardie persoon se gesondheid belê.
Die bedrag sluit in
• Middagete
• Gesondheidspraatjies
• Glukose-, cholesterol- en bloeddruktoets
• PSA (Prostaat-spesifieke Antigene Bloedtoets) vir die manne wat voel dat hulle die toets moet doen. (Dankie aan Sanlam en Pathcare)
Dit is ‘n totale gesondheidskontrole-bewusmakingsprojek vir mans.
U ondersteuning sal ons help om jaarliks met hierdie geleentheid voort te gaan en om hierdie belangrike projek wat op mansgesondheid fokus aan te kan bied.
U bydrae help om ons versorgings- en ondersteuningsprogramme wat deur KANSA Care Centers verskaf word, te befonds!
Bel Andries om jou kaartjie te bespreek – 084 242 2220



