“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” – Juan deel 7

Juan van Rensburg (Dusty), 36, is vandag vyf maande in die Noupoort-rehabilitasiesentrum. Dusty moet vir 52 weke daar bly, dus is hy nou amper halfpad deur die program. Sy familie het verlede naweek vir hom gaan kuier en kon nie die trane keer nie.

Kort kuiertjie

Ellouise van Rensburg, Juan se suster, en hulle ma het verlede naweek vir Dusty by die rehabilitasiesentrum gaan kuier. Sy sê hulle kon nie die trane keer toe hulle hom na amper ’n halwe jaar weer vir die eerste keer sien nie. “Ons het hom in dieselfde vertrek gesien, waar ons hom op 11 Februarie 2019 agtergelaat het. Ons kuier was vreeslik lekker, al was dit vir so ‘n kort tydjie.”

Sy sê dit was lekker om die hele middag net te sit en gesels oor alles. “Ons is al so gewoond daaraan om net 10 minute met hom te mag praat, so die tyd wat ons saam met hom gehad het, was ongelooflik kosbaar.

Perdfris en gesond

“Hy lyk fisies baie goed en het nie meer daardie groot, donker kringe onder sy oë nie. Hy het so ‘n bietjie gewig verloor, maar andersins lyk hy perdfris en gesond.

Foto: Ellouise het die foto van Juan tydens die kuiertjie geneem.

“Noupoort is goed vir hom. Dit het hom geleer om weer die klein dinge in die lewe raak te sien, te geniet en te waardeer. Dit het hom ook dissipline, waarde en respek vir sy medemens geleer, maar grotendeels sy geloof,” vertel Ellouise.

Christians In Action Reintegration Academy

“Hy is nou in Middleton by CIARA (Christians In Action Reintegration Academy) vir die volgende 20 weke. Hy is nog nie by ’n spesifieke werkstasie geplaas nie, maar doen op die oomblik instandhoudingswerkies. Hy hark die blare en moet sorg dat al die vol asdromme se sakke uitgehaal word en moet weer nuwe sakke insit.”

Oefening

Ellouise sê met Dusty se aankoms in Middleton het hy klaar begin oefen. “Hy het sy eerste dag bietjie gaan draf en hy sê daar is gewigte en ’n bankie waar hy darem ’n paar verskillende oefeninge kan doen.

“Dusty mag steeds elke dag ’n oproep ontvang, maar met alle oproepe moet hy in camera view wees. Sy gesig moet ten alle tye na enige van die kameras toe wys.”

Sy sê die reëls in hierdie fase is baie streng, wat ’n goeie ding is. “Hy het definitief meer vryheid as wat hy in Noupoort gehad het.”

Hy is baie opgewonde oor die volgende 20 weke wat voorlê.

Foto: Ellouise het die foto van Juan tydens die kuiertjie geneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: