Gemeenskapslede van Galeshewe het vandag klippe in die pad gerol om hulle ontevredenheid oor onwettige elektrisiteit na shanties weer te gee.
Die groep het op die hoek van Galeshewe- en Pnielweg klippe in die pad gerol omdat daar vermoedelik onwettige elektrisiteit vanaf die transformator by Hoërskool Tshireleco na shanties toe gelei word.
Lawrance Mkwanazi (34), voorsitter van die Greater Two-gemeenskapsforum, sê daar is gister al opgemerk dat die transformator olie lek en rook. Die huise langs dié hoërskool voorsien glo die shanties van elektrisiteit.
Hy sê die hoeveelheid elektrisiteit wat gebruik word, is te veel vir die transformator se kapasiteit en veroorsaak ‘n kragonderbreking om 18:00 elke aand. Saterdag het ‘n shantie afgebrand en inwoners het elektriese ware verloor. Die oorsaak daarvan word nou bevraagteken.
Die gemeenskap het die pad afgesper in afwagting vir die munisipaliteit om die onwettige drade te ontkoppel. Polisie was op die toneel en het die gemeenskapslede en versperrings uit die pad verwyder.
Die burgemeester, Mangaliso Matika, van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sou glo 11:00 ‘n ontmoeting met die gemeenskapslede hê, maar niemand het opgedaag nie.
“Clearly the council has no interest in us,” sê Mkwanazi. Hy het ook genoem dat die inwoners van die shanties gedreig het om die transformator uit te brand, sou die munisipaliteit die drade verwyder.
Sello Matsi, woordvoerder van die munisipaliteit, sê by navraag hy was nie bewus was van die situasie nie.





