Die DBV in Virginia het onlangs ‘n klagte ontvang van hondjies wat dag en nag huil. Met hulle besoek is daar gevind dat die hondjies se sterte vermoedelik met rekkies afgesit is.
Die DBV het die hondjies in hulle sorg geneem en mediese behandeling gegee. Daar is ook ‘n saak van dieremishandeling oopgemaak.
Wat is tail docking?
Volgens die South African Veterinary Council (SAVC) is docking die amputasie van ‘n hond se stert op verskillende lengtes om aan die aanbevelings van sekere rasstandaarde te voldoen. Docking is die amputasie van ‘n hondjie se stert met ‘n skêr of ‘n skalpel. Soms word rubberrekkies gebruik, hoewel hierdie metode nog nooit deur veeartse goedgekeur is nie. Die snit is deur baie sensitiewe senuwees in die vel, kraakbeen en been. Hierdie prosedure word normaalweg sonder narkose of met plaaslike verdowing, op die ouderdom van drie tot vyf dae, uitgevoer. ‘n Klein aantal honde word sonder ‘n stert gebore.
Tail docking, selfs uitgevoer met plaaslike narkose, veroorsaak pyn en stres vir jong hondjies. Onlangse navorsing oor pyn toon duidelik dat hondjies, selfs ‘n paar dae oud, ‘n ten volle ontwikkelde senuweestelsel het en pyn kan voel. Tail docking kan tot ernstige komplikasies soos bloeding, infeksie en selfs die dood van die hondjie lei. Neuroma-vorming kan ook plaasvind.
Volgens die SAVC hou tail docking geen voordele vir hondjies in nie. Tradisioneel beskou sommige telers dat ‘n afgesnyde stert nodig is om die werksfunksies van die hond te vervul. Vandag word baie werksrasse aangehou as huisdiere en slegs ‘n klein persentasie word gebruik vir veldwerk, wat ‘n ontspanningsaktiwiteit vir mense is en nie ‘n noodsaaklike funksie het nie. As sekere hondrasse hulle natuurlike lang sterte behou, is hulle nie meer geneig om stertbeserings as honde van ander rasse te kry nie. Honde benodig hul sterte vir balans en lyftaal.
As ‘n prosedure wat pyn veroorsaak geen onmiddellike of toekomstige voordeel vir die dier het nie en dit kan lei tot komplikasies, is dit onnodig en moet dit nie uitgevoer word nie, aldus die vereniging.
Dr. Mareli van de Wetering, veearts by Vets4ALL, sê dit is onwettig om hondjies se sterte af te sit. “Die DBV kan genader word in so ‘n geval en daar kan vir seker ‘n saak van dieremishandeling oopgemaak word.”







