*** Spookstories word ingestuur deur FiND iT lesers en is nie die opinie van FiND iT nie.***
“Van baie kleins af, het ek altyd gevoel asof iets of iemand my agtervolg. My ma het my vertel toe ek klein was, het ek altyd in die aand gekla dat daar oë vir my kyk. Ek kan dit nie eers onthou nie, maar sy sê ek wou nooit in my eie kamer slaap nie en was altyd bang. Sy het my en my broer se kamers omgeruil en dit het vir ‘n rukkie beter gegaan. Sy het my ook vertel dat ek een keer skreeuend van buite af ingehardloop gekom het, omdat ek ‘n wolf met rooi oë gesien het.”
“Soos die jare aangegaan het, het ons van huis verander, maar daar het nogsteeds snaakse goed met my gebeur, veral wanneer ek alleen is. Ligte wat ek aanskakel, sal onmiddellik afgeskakel word. Ek sal hoor hoe iemand die skakelaar se knoppie druk, maar dan is ek alleen by die huis. Goed is nie waar ek dit gelos het nie. Ek sal die kombuisdeur sluit op pad êrens heen en dan wanneer ek weer verby hom loop, op pad uit, staan hy wyd oop.’n Klomp sulke goed het deur die jare gebeur wat my ongemaklik gemaak het, maar my nooit skade aangedoen het nie. “
“Ek was een aand alleen by my huis. Ek het net by my ouerhuis uitgetrek, na my eie plekkie toe. Dit was ‘n Vrydagaand en ek was lekker moeg na die rowwe week. Ek het gaan stort en daarna in die bed geklim. Ek het vir my ‘n fliek aangesit, maar terselfdertyd op my selfoon gelê en speel. Ek moes êrens deur die fliek aan die slaap geraak het, want ek het wakker geskrik toe die kamer stil word. Ek het op my foon gekyk om te kyk hoe laat dit is. Tot my bittere skok het ek na ‘n foto van myself gestaar. Iemand het ‘n foto van my geneem, met my selfoon, waar ek lê en slaap het. Ek was heeltemal uitgefreak. Ek het opgespring en deur my woonstel gehol om te kyk of iemand ingebreek het, maar al die deure was nogsteeds gesluit en alles was net soos ek dit gelos het. Ek was nog nooit so bang nie.”
“Ek voel nogsteeds die teenwoordigheid om my elke dag, maar dit het wel baie rustiger geraak. Ek voel deesdae minder bang ook, maar weet dat wat ookal dit is, is nie heeltemal weg nie.”



