Veiligheidswagte verwyder dooie hond

Deel hierdie storie / Share this story

’n Dooie bruin Staffie-hond is vanmiddag om 17:40 van duiwelsvurk in Cathkin Peak-laan, Carters Glen, verwyder. Dit nadat die dierebeskermingsvereniging (DBV) volgens inwoners al vanoggend omstreeks 09:30 van die hond in kennis gestel is.

Inwoners van die area het later vanmiddag vir Scorp Security gekontak om te hoor of hulle kan help met die hond, wat teen dié tyd reeds dood was. Die eienaar van die eiendom waar die hond vasgesit het, het net na 17:00 by die huis gekom. Die eienaar weet nie aan wie die hond behoort nie.

Gerda Louw, ‘n inwoner, het saam met haar dogter en Jaco Cloete, lid van Scorp Security, wat ook inwoners van dié area is, na die eiendom gejaag. Hulle sê aan FiND iT hulle het weer die DVB gebel.

Cloete sê toe hulle op die toneel kom, het die wagte reeds die hond verwyder. Hy sê toe hy die DBV bel, het hulle aan hom gesê hulle moet R150 betaal sodat die hond opgetel word. “Ons het toe die hond self geneem en moes R150 betaal dat ons die hond aan hulle kon oorhandig.”

Cloete sê dit was baie erg om dit te sien. “Dit maak mens baie hartseer. Ek is ‘n diereliefhebber. Dit maak jou baie ongemaklik om met ‘n dooie dier te werk.”

Wickus Coetzee, van Scorp Security, sê hulle is ongeveer 17:20 van die hond in kennis gestel.

“Ons het die hond 17:40 verwyder. Die inwoners was bekommerd oor kinders en ander inwoners wat die hondjie kon sien.”

Hy sê Scorp Security het betaal om die hond by die DBV te veras. “Ons is baie hartseer oor wat gebeur het. Dis nie duidelik wat die oorsaak van die hond se dood is of hoekom hy in die hek vasgesit het nie.”

Coetzee sê dit was geweldig ontstellend vir sy wagte om die hond van die tralies te moes verwyder. “Boonop moes hulle toe betaal dat die DBV die lyk van die hond aanvaar. Dis nie reg nie.”

Andrew Mpofu, van die DBV, sê hy het die DBV se telefoon die hele dag by hom gehad, maar het geen oproepe ontvang nie. “Ons was nie vandag besig gewees nie. Ek het nie so ‘n oproep ontvang nie. As enigiemand gebel het, sou ons die hond gaan verwyder het.”

Dit is steeds onbekend wie die hond se eienaar is.

Foto: Scorp Security probeer die hond verwyder.
Foto: Die foto wat die eienaar van die woning op die groep geplaas het.