Man wat nagklubeienaar slaan in hof

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die man (19) wat na bewering ‘n nagklubeienaar (50) van die stad aangerand het, het vandag hier in die hof verskyn.

Barney Blunden is op 21 Mei in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, nadat hy na bewering die nagklubeienaar buite die klub aangerand het.

Dae na die voorval het ’n vroulike inwoner, wat agter die nagklub woon, ’n interdik teen die nagklubeienaar uitgeneem wat hom verhoed om harde musiek te speel. Luidens die interdik mag hy ook nie buite die huis van die vrou urineer, sy vriende aanspoor om in haar erf te gaan nie, of voor haar erf te stop nie, harde musiek speel of haar intimideer nie. Hy mag ook nie ander aanspoor om haar of haar familie te intimideer nie.

Die nagklubeienaar moet op 26 Junie in die landdroshof vir die interdik verskyn. Hy staan die aansoek teen.

Die saak teen Blunden is tot 19 Julie vir verdere ondersoek uitgestel. E. O. Malawane kla aan. Etienne Mathewson tree vir Blunden op.