DOUGLAS. – ‘n Ontstellende video wat die rondte doen op Whatsapp, waarop gesien word hoe ‘n meisie na bewering vermoor word, is nie ‘n video van Jolandre Tolli nie.
Só sê lt.-kol. Dikamatso Mooi, polisiewoordvoerder, nadat die polisie die video onder oë gehad het.
Die video wys glo hoe twee mense ‘n meisie doodmaak. ‘n Derde persoon neem vermoedelik die video.
Inwoners van Douglas het die video onder mekaar versprei en geglo dit is die moord van Tolli wat op video vasgevang is. Dit is nie duidelik wat die oorsprong van die video is nie.
Mooi sê dié video het nie betrekking op die moord op Tolli, ‘n voormalige leerling van die Hoërskool Weslaan op Douglas, nie. “Die polisie weet nie watse video dit is nie. Dit het niks met die moord op Tolli te doen nie. Dit is nie dieselfde voorval nie.”
Die lyk van die 16-jarige Tolli is ongeveer 150 m van haar huis, in die Breipaal-area, gekry.
Rodrick Francke, die verdagte, is in hegtenis geneem en verskyn weer op 18 Junie in die hof op Douglas. Hy sal dan aansoek doen om borgtog. Tolli was vanaf 2 Junie tot 6 Junie vermis, voordat haar lyk in ‘n oop veld gekry is. Haar keel was gesny.



