Polisie waarsku teen aanlyn bedrog

Die polisie waarsku lede van die publiek teen fop-advertensies wat deur verdagtes op tweedehandse koop-en-verkoop platforms geplaas word om sodoende persone in ‘n lokval te lei en te beroof.

Die waarskuwing volg nadat ’n persoon wat op ’n aanlyn plasing vir beeste reageer het, omstreeks 15:00 op Saterdag 18 Mei op Boskuil naby Makwassie in die Noord-Wes deur ’n groep mans aangeval is. Die man en sy broer is van hulle geld en persoonlike besittings beroof.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Wes, sê: “Ons vra lede van die publiek om bedag te wees teen fop-advertensies vir motors en vee wat in die omgewing van Makwassie, Leeudoringstad, Boskuil en Wolmaransstad adverteer word.”

Voorts sê sy: “Luidens inligting beskikbaar is die modus operandi van die verdagtes om die slagoffer vir ‘n toetsrit vir die motor wat geadverteer is te neem – of na die plek waar die vee aangehou word. Die verdagtes sal dan die slagoffers van hulle besittings beroof.”

Wenke wat jou kan help om boewe te vermy:

  • Moenie vreemdelinge by jou huis of in ’n residensiële gebied ontmoet nie. Dit word aangeraai dat by ’n besige inkopiesentrum, restaurant, parkeerarea of by ’n polisiekantoor ontmoet word. Dit is beter om in die dag te ontmoet. Indien jy die persoon in die donker moet ontmoet, maak seker om in ’n besige gebied met baie mense te ontmoet.
  • Lig jou familie en vriende van jou planne in.
  • Neem ’n familielid of vriend saam indien moontlik.
  • Reël met iemand om jou ’n sekere tyd na die ontmoeting te skakel om seker te maak alles is in orde.
  • Maak seker jy neem ’n selfoon saam.
  • Maak ook seker jou selfoon is gelaai en het lugtyd op.
  • Indien jy as koper / verkoper iets verdags gewaar, verlaat die gebied onmiddellik en moet hulle nie in jou voertuig toelaat nie. Moenie huiwer om te sê: “Jammer ek het jou tyd gemors. Daar het iets voorgeval en ek moet nou dadelik gaan. Tot siens.” Jou veiligheid is belangriker as om dalk ongeskik voor te kom.
  • Moenie te veel kontant op jou dra nie.
  • Verlaat die gebied onmiddellik indien die item wat geadverteer is nie daar is nie.
  • Indien jy beroof word, moenie huiwer om enige besittings waarvoor die verdagtes vra te oorhandig nie. Jou lewe is meer werd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: