KIMBERLEY. – ’n Man (19) het hier vir die aanranding van ’n nagklubeienaar (50) in die hof verskyn.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê Barney Blunden het na bewering op 12 Mei vanjaar die man voor sy nagklub aangerand.
Blunden is op 21 Mei in hegtenis geneem op ‘n aanklag van aanranding, met die opset om ernstig te beseer. Hy het die volgende dag in die hof verskyn. “Die saak is tot 14 Junie uitgestel,” sê Kock.
Dae na die voorval het ’n vroulike inwoner, wat agter die nagklub woon, ’n interdik teen die nagklubeienaar uitgeneem wat hom verhoed om harde musiek te speel. Luidens die interdik mag hy ook nie buite die huis van die vrou urineer, sy vriende aanspoor om in haar erf te gaan nie, voor haar erf te stop nie, harde musiek speel of haar intimideer nie. Hy mag ook nie ander aanspoor om haar of haar familie te intimideer nie.
Die nagklubeienaar moet op 26 Junie in die landdroshof vir die interdik verskyn. Hy staan die aansoek teen.



