Berno Venter (27) is in 1991 in die Diamantstad, Kimberley, gebore.
Alhoewel hy in 2011 Johannesburg toe verhuis het, het hy in 2015 weer teruggekeer Kimberley toe en saam met sy oom in die konstruksiebedryf begin werk.
Hy sê sy stokperdjies is enigiets wat oefening insluit. “Ek hou van gym, fietsry, motorfietsry of boogskiet. Ek is ook mal oor die plaas en om te braai.”

“Om te ontspan, lê ek gewoonlik op die bank en lees, of ek probeer iets nuuts in die kombuis. Ek geniet dit om ’n skaapboud met aartappels, rys en ’n lekker gravy te maak.”
Berno vertel hoe sy ideale vakansie by die see sal wees. “Om elke dag te kan oefen in die vars seelug en dan natuurlik ’n donut of twee te kan eet sonder om té veel skuldig te voel daaroor.”
“Ek bedryf tans vir Mobifix. Dit is ’n mobielefoon-herstelbesigheid. Ons herstel enigiets van ’n gekraakte skerm, tot ’n laaipunt wat foutief is. By Mobifix probeer ons dit in die kortste tyd moontlik herstel. Ek is ook besig om my ‘n kursus in personal training and nutrition te doen. Sodra ek die kursus voltooi het, gaan ek dit aanlyn bedryf. Ek gaan basies programme skryf en verskillende diëte uitwerk.”
“My daaglikse doelwit is om elke dag 1% beter te word in alles wat ek doen, dus streef ek daarna om konstant in alle aspekte van my lewe te groei.”




