“Ek skryf vir my kind verjaarsdagwense in die hemel”

Deel hierdie storie / Share this story

“Makliker gesê as gedaan.  Maar kom ek probeer.”

Chara van Zyl (18) se hele lewe het nog voor haar gelê. Sy was ‘n matrikulant aan die Hoërskool Diamantveld wat op pad was om die grootmenswêreld te betree. Sy het soos enige ander meisie oor haar matriekafskeid gedroom. Maar, min wetend, is sy voor daai dag wreed uit die samelewing geruk. Haar matriekafskeidrok hang nog net so in die kas.

Corrie Burger (50), Chara se ma, het haar enigste dogter op 11 Junie 2014 in ‘n motorongeluk net buite Kimberley aan die dood afgestaan. Sy was een van twee passasiers wat oorlede is.

Vandag, 27 Mei, vier Chara haar vierde verjaarsdag in die hemel.

 Chara se dood oorheers nie meer Corrie lewe soos voorheen nie. Alhoewel die pyn sagter is, is dit ‘n seer waarmee sy moes leer saamlewe.

Maar vandag vier sy haar dogter se lewe in die hemel, en hier op aarde.

Corrie se boodskap aan Chara

“Chara, vandag 27 Mei, 23 jaar terug het God vir my ‘n groot present gegee, een wat my lewe beter gemaak het. Ek het wel later eers besef jy was net geleen.

“Jy het ons lewe soveel ryker gemaak.  Jy het vir ons gewys hoe om voluit te lewe en jy het onvoorwaardelik liefgehad.  Jy was my dogter, my sussie en my beste maatjie. Dankie vir jou.

“Ons het jou verjaarsdag Saterdag (25 Mei) gevier.  Daar was balonne, eetgoed, geskenke en daar was baie gelag, nes jy daarvan hou.  Ek kan vir jou nie goeie wense toewens nie, want in die hemel het jy klaar die beste.  Vandag sal daar weer ‘n straat vir een hele dag na jou vernoem word, ek sal ietsie van jou dra sodat jy naby my is, en ek sal jou lewe herdenk. 

HAPPY BIRTHDAY CHARA!”