Doof, maar steeds ‘n seëning

Foto's: Verskaf

Yolandé Bekker (24) het twee miskrame gehad en is nou die trotse mamma van ’n babaseuntjie, Luke Bekker, wat feitlik doof gebore is.

Kry twee miskrame

Sy vertel hoe sy en haar man mekaar in 2010 in Kimberley ontmoet het. “Ons het in 2015 na Bloemfontein verhuis en op 23 Maart 2016 het ek my eerste miskraam gehad,” verduidelik Yolandé. “Ons wou baie graag ’n baba gehad het en om op 24 Desember 2017 te moes uitvind ons het ons tweede baba ook weens ’n miskraam verloor, was die seerste seer wat ek nog ooit ervaar het.”

“Ek het moed verloor en was in ’n struweling met God. Ek kon nie verstaan hoekom my liggaam nie saamgewerk het nie. Ons het in Februarie 2018 weer uitgevind ek is swanger. Om seker te maak het ek sewe swangerskapstoetse geneem voor ek ’n doktersafspraak gemaak het. Ek het in Maart 2018 dokter toe gegaan en uitgevind ek is reeds 10 weke swanger,” vertel sy.

Bang en onseker

“Die gevoel van vrees en onsekerheid was heeltyd daar, maar gelukkig het my swangerskap goed verloop. Ek het geen probleme gehad nie. Op 31 weke het ons ’n 3D/4D-sonar laat doen en die dokter het ons in kennis gestel dat ons seuntjie op 28 Oktober 2018 gebore kon word.”

“Op 33 weke het ek pyne begin ervaar en ek het gesukkel om te loop. Omstreeks 03:30 op 16 September 2018 het ek wakker geword en besef my water het op 34 weke gebreek. Ek is omstreeks 07:00 opgeneem in die hospitaal,” onthou Yolande.

“Ek onthou nog hoe die dokter my kom ondersoek het. Hy het my in kennis gestel dat indien Luke nie binne 24 uur gebore word nie, ek ’n induksie moes kry. Ek het 03:30 op 17 September 2018 ’n induksie gekry en my kosbare seuntjie is om 14:10 gebore.”

Ek kon hom nie vashou of sien nie

Sy vertel hoe sy nie haar seuntjie kon hoor huil nie. “Hulle het hom dadelik weggeneem, dus kon ek hom nie eers vashou of net sien nie. Hulle het my 17:00 daardie middag in kennis kom stel dat Luke, my seuntjie, nie vanself asemhaal nie en dat hy oorgeplaas moet word Pelonomi-hospitaal toe. Hy moes in die ICU-eenheid opgeneem word. Ek moes oornag gehou word vir observasie en het my pienkvoet op 18 September 2018 vir die eerste keer ontmoet, nadat ek ontslaan is.”

Luke in die ICU

“Luke was vir vyf weke in die ICU-eenheid. Hy was heeltyd op asemhalingsmasjiene. Hy het ook infeksies gekry en het lewensgevaarlike meningitis gekry. Die dokter het op ’n tyd na ons toe gekom en vir ons gesê hy het ’n 50% kans vir oorlewing. Die Here het ons definitief gedra deur die weke en Luke is na vyf weke ontslaan.”

Luke se eerste week by die huis

Hy reageer nie

“Ons was so dankbaar vir tyd saam met ons liefdevolle seuntjie, maar het net na hy die viermaandemerk gehaal het, besef hy reageer nie as ons met hom praat of as musiek speel nie. Ons het sy pediater gaan besoek en ’n gehoortoets laat doen. Sy linkeroor het heeltyd ’n telling van 0 uit 4 gegee. Ons het vir ’n tweede opinie by Universitas-hospitaal gegaan en het ’n gedetailleerde gehoortoets van sowat twee en ’n halfuur laat doen.

Hulle het bevestig dat Luke geen gehoor in sy linkeroor het nie en dat sy regteroor baie min gehoor het. Hy kon net tot ’n sekere hoogte klank hoor. Die dokter het gesê dat omdat Luke vroeg gebore is, dit ’n groot rol in sy ontwikkeling gespeel het. Sy longe was ook nie ten volle ontwikkel nie. Ons het toe reeds ’n datum gekry vir ’n afspraak vir sy gehoorstukke.”

Gehoorstukke en koglea-implanting

“Op 15 Mei 2019 het ons die afdrukke van sy gehoorstukke laat maak en wag tans nog daarvoor. Luke gaan die gehoorstukke moet dra vir vier maande om te kyk hoe hy daarop reageer. Hy gaan egter ’n koglea-implanting in sy linkeroor moet kry. Hy gaan ’n gewone gehoorstukkie aan sy regteroor kan dra.”

Kostes en ouderdom

Yolande sêLuke moet een jaar of ouer wees voor hulle die operasie kan doen, so dis oor omtrent vier maande, maar die prosedure is baie duur. “Net vir die koglea beloop die koste sowat R214 500, daarom het ek ’n GoFundMe page begin, om op so manier ook donasies te kry sodat Luke hierdie operasie kan ondergaan.”

3 Maart 2019 – Luke se doop

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *