Vrouens en bejaardes word in CBD-area geteiken

Die CBD-area raak al hoe gevaarliker vir vrouens en bejaardes. Onlangs is daar weer vrouens geteiken wat by die robot by Woolworths in Lennoxstraat stilgehou het.

“Aangesien ek in die De Beers-area werk, moet ek ongelukkig deur die CBD-area ry. Ek was bietjie laat om my dogtertjie te gaan haal by die nasorg en kies toe die maklikste pad, maar ook die gevaarlikste,” vertel Henriëtte Meintjies.

Deure is gesluit

“Ek is altyd waaksaam wanneer ek by ’n verkeerslig stop, maar hulle het my Woensdag onkant gevang. Ek was die vierde voertuig in die ry by die verkeerslig en was net om die die draai van Fashion World se verkeerslig. Ek het skaars gestop, toe een man aan die bestuurderskant die deur probeer oopruk. Ek het egter geweet my voertuig is gesluit, omdat ek hom ten alle tye gesluit hou. Aan die passasierskant was daar ’n ander man ook besig met my deur.”

“My voertuig was reeds in eerste rat en het ek vinnig gedink om na die regterkantste baan, wat oop was, te gaan. Ek het met skreeuende bande weggetrek, omrede ek bang was hulle breek my venster. Met dié dat ek wegtrek, besluit die een aan my regterkant om voor my voertuig verby te hardloop terwyl die ander een toe nog by die passasierskant is. Dit was so amper of ek het die man raakgery. Hy het op my voertuig se enjinkap gedruk om te keer dat ek hom nie stamp nie en het toe weggehardloop. In daardie oomblik het ek besef dat as ek nog vorentoe ry, ek hom dalk raak sou ry. Ek was bang vir die gevolge.”

Wat gesteel kon word

“My motor is van so aard dat mens kan insien in die kattebak, so ek hou altyd my handsak op die passasierskant se vloer. Indien hulle sou inbreek, sou hulle my handsak met my foon en beursie gesteel het.”

Sy vertel hoe sy paniekbevange en in ’n breukdeel van ’n sekonde moes besluit wat om te doen. “Hulle het gesien my deure is gesluit, maar steeds het hulle aanhou ruk, dus het ek vermoed dat hulle my venster wil breek. Ek moes daar wegkom,” sê sy.

Henriëtte dink vrouens en bejaardes word definitief geteiken.

Hierdie is na bewering een van die mans wat aan die motordeure ruk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: