Ek het my verkragter geken

“Ninety percent of the time rape is done by someone you know. Not a creepy man in die alley” – Andrea Cooper

‘n Leser, wat anoniem wil bly, vertel aan FiND iT oor die nagmerrie wat sy deur is, toe iemand wat sy ken, haar verkrag het.

“Ek was 23 jaar oud toe ek een aand saam met my meisie en ‘n groep vriende gaan kuier het. Ons was by ‘n kuierplek en my meisie het die pad gevat saam met ons vriende. Hulle het my net daar gelos en nie vir my gesê hulle gaan ry nie. Ek het probeer bel, maar almal se fone was af.”

“Ek het ‘n vriendin raakgeloop en ons het vir ‘n ruk gekuier, voordat sy ook moes gaan. ‘n Man wat in daardie stadium saam met my gewerk het, het daar opgedaag en saam met my ‘n drankie gedrink. Hy het later aangebied om my te help om na my mense te soek. Toe ons hulle nie kon opspoor nie, het ek bekommerd begin raak want my meisie het ons woonstel se sleutel gehad, wat beteken het dat ek nie by die huis sou kon inkom nie.”

“Hy het toe aangebied dat ons na sy huis toe kan gaan vir eers en daar wag vir ‘n oproep of boodskap. Ek het nie gevoel asof ek enige rede het om hom te wantrou nie, omdat ek saam met hom werk en hy geweet het dat ek van vrouens hou. Ek het saam met hom na sy huis toe gegaan, waar ons ‘n drankie gedrink het. Ek het begin sleg voel en die volgende oomblik was hy op my.”

“Nadat hy my verkrag het, het hy my by my woonstel gaan aflaai. Ek het net daar, met my klere en al, in die swembad gespring en myself probeer afwas. Ek het vuil gevoel. Ek moes wag tot my meisie by die huis kom, voordat ek kon gaan stort. Ek haar nie vertel wat gebeur het nie. Ek het vir niemand vertel wat gebeur het nie. “

Stilgebly

“Ek het nooit ‘n saak gaan maak nie en het ook nooit vir iemand vertel nie. Ek het gevrees vir my lewe en dié van my familie. Hy was ‘n baie invloedryke persoon, op ‘n negatiewe manier. Hy was ‘n gevaarlike mens en het al die verkeerde mense geken. Daar was later ook gerugte dat hy met dwelms gesmokkel het.”

Die nagevolge

“Dit het veroorsaak dat ek maar lig loop vir enige man. My vertroue in mans is nogsteeds nie heeltemal herstel nie.”

“Ek het alkohol begin gebruik om beter te voel en het nie omgegee of ek suip soos ‘n vis nie. Gelukkig is ek vandag verlos van die greep van alkohol, maar dit het in ‘n stadium baie rof gegaan.”

“Ek sal graag vir elke vrou wat deur dieselfde gaan, wil sê: Be the survivor, not the victim. It is not what you are; what you do in life is what defines you. The abuse happened to you, not because of you. The abuse does not define you, love yourself.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *