Die emosionele suster en niggie van die 19-jarige meisie, Martha Mokgele, wie se verbrande liggaam oor die naweek saam met dié van haar babaseuntjie in Windsorton gevind is, praat met FiND iT oor wat gebeur het.
“Ons weet haar kêrel het haar en hulle seuntjie vermoor,” sê Lorraine Lephoi, die oorledene se niggie.
Bloed aan sy klere
“Ek het Sondagmiddag na haar kêrel se huis gegaan, op soek na my sussie, omdat ek haar en haar babaseuntjie Saterdagaand omstreeks 19:00 laas gesien het. Ek weet sy het Saterdag na sy huis gegaan om hulle verhouding te verbreek en sy het nooit teruggekom nie. Sy was in ’n abusive verhouding met hom en ons weet hy gebruik dwelms ook, onder andere ecstacy,” vertel Susan Mokgele, die oorledene se ouer suster. “Toe ek daar kom, was hy besig om bloed uit sy klere en tekkies te was, maar hy het gesê dit is die bloed van varke, aangesien hy varke geslag het. Ek het hom nie geglo nie.”
“Dit was nie soos my sussie om nie huis toe te kom nie. Veral nie nadat sy die verhouding wou verbreek het nie. Ons vermoed daar was twee mans by hulle moord betrokke, maar weet nie wie die tweede man is nie.”
Ma en baba verbrand
“’n Man van Holpan het op my niggie se liggaam afgekom en dadelik die polisie ontbied. My niggie was egter so verbrand dat ons haar glad nie kon herken nie, maar haar tien maande oue babaseuntjie, Neo Mokgele, het net brandwonde op sy voorkop, hande en arms gehad. Ons vermoed sy dood is deur iets anders veroorsaak, maar weet nie wat nie. Ons vermoed ook dat my niggie verkrag is voor haar dood.”
Verdagte verskyn in die landdroshof
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die verdagte môre 14 Mei 2019 in die landdroshof op Barkly-Wes gaan verskyn vir die moord op die jong ma en haar baba.
“Ons is baie ontsteld,” sê Lorraine. “Indien daar nie geregtigheid is nie, gaan ons en die hele gemeenskap die gereg in ons eie hande neem.”
Liggame identifiseer
Die ouers van die oorledene wou nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie, maar hulle het bevestig dat hulle vandag hulle dogter en kleinseun se liggame moet gaan identifiseer.





