Ons sê baie, baie dankie!

Deel hierdie storie / Share this story

Jackie Engelbrecht, ’n lid van Hoërskool Noord-Kaap se beheerliggaam (SBL), het n tydjie afgeknyp om met FiND iT te gesels oor die teacher appreciation-verrassing wat hulle vir die onderwysers gehou het as deel van die teacher and staff appreciation week.

Soos familie

“Die onderwysers en personeel van Hoërskool Noord-Kaap is soos familie en is baie spesiaal,” vertel Jackie. “Ons besef nie aldag waardeur ’n onderwyser gaan nie en ons sê te min dankie en wys te min ons waardering. Ons het vandag gekies om dit ‘n instelling by die skool te maak deur dit ons week van waardering – teachers appreciation week – te maak. Leerders het deur die loop van die week waarderingsbriefies in ‘n spesiale briewebus – appreciation letter box – gesit wat ons Vrydag aan die onderwysers sal gee en die week met nog ‘n bederfie sal afsluit.”

Die oggend se verrigtinge

Sy vertel hoe Liam Jacobs, hoofseun van die skool, vanoggend se verrigtinge afgeskop het met Skriflesing en gebed. “Charissa Swanepoel, hoofdogter, het ’n woord van waardering aan die onderwysers en personeel oorgedra. Daar het sy ‘n baie spesiale punt genoem: “As vandag jou laaste dag is, hoeveel dankies vir die dag vat jy saam met jou?”

Charissa Swanepoel en Liam Jacobs

“Corné en Adel Viljoen van die Taberna Dei-kerk het ons ook bedien met ’n woord van waardering. Ek deel hiermee wat Corné genoem het: “Kinders wys nie aldag hulle waardering nie en dit mag dalk vir jou voel dat alles wat jy doen nutteloos is en nie waardeer word nie, maar eendag sal daardie selfde kind of dalk ‘n kind van wie jy dit die minste verwag, kom en sê: ‘Dankie Meneer of Juffrou vir dit wat jy daardie tyd vir my gedoen het.’ Onthou ook, niks gaan ongesiens by God verby nie. Corné en Adel het afgesluit met ‘n sangitem As musiek begin speel van Karin Zoid.”

Groot sukses

“Dit was n groot sukses. Die onderwysers het dit ongelooflik baie geniet en dit het hulle aan die hart geraak, selfs op ‘n emosionele vlak,” verduidelik Engelbrecht. “Om waardeer te word, sit ’n huppel in hulle stap en gee krag vir die nuwe dag.

Woorde van die skoolhoof

“Wow! Dit was nou ’n aangename verrassing! Ek voel sommer weer vol vuur. Dankie aan die SBL en almal wat bygedra het daartoe om die personeel so spesiaal te laat voel. Dit is kosbaar en word opreg waardeer,” sê Joan Venter, skoolhoof van Hoërskool Noord-Kaap.

Woorde van Corné Viljoen

Corné Viljoen van die Taberna Dei-kerk vertel watter voorreg dit was om vanoggend tyd saam met die kampioenonderwysers van Hoërskool Noord-Kaap te kon deurbring om hulle waarde en bydrae in kinders se lewens en in ons samelewing te vier. “Dankie vir julle werk. Jy sien nie die waarde van die saadjie wanneer jy hom plant nie, maar wel eendag wanneer hy vele vrug dra.”