Kleuter se hare soos ‘n reënboog

Francois (28) en Karin (28) van den Berg se 18 maande oue dogtertjie, Hazel-Grace van den Berg, was maar net ‘n jaar oud toe haar hare die eerste keer gekleur word. “Dit was nogal ‘n mission om haar te laat stil sit,” vertel haar ma.

Hoekom haar hare kleur?

Karin vertel sy wou al vir ‘n geruime tyd Hazel se hare kleur omdat mense haar bly vra hoe oud is hy. “Dit het ons vreeslik gepla dat mense nie kon sien sy is ‘n dogtertjie nie, al het sy pienk klere aan!”

Volgens Karin is Hazel mal daaroor en kan sy die heeltyd vir haarself in die spieël kyk en aan haar hare vat.

Hazel is ‘n bedrywige dogtertjie en ‘n lekkertjie in die hand is gewoonlik al wat werk dat sy vir ‘n paar minute, let wel, ‘n paar minute, stil sit. “Ons spoel haar hare in die bad af terwyl sy speel, dan besef sy nie gewoonlik wat regtig aangaan nie.”

Mense se reaksie

Sy vertel mense se reaksie is gewoonlik positief en almal sê altyd hoe oulik sy lyk en hoe cool dit is dat ons dit doen. “Sy trek almal se aandag waar ons gaan. Daar is wel ook mense wat vra hoekom doen ons dit en sê ons mors met haar, maar ons steur ons nie daaraan nie.”

Karin sê sy is mal daaroor om haar poppie se hare pienk te maak en beplan al klaar om haar hare volgende keer soos ‘n unicorn te laat lyk. Pappa Francois is ook mal daaroor en vra haar altyd wanneer haar hare weer gekleur word.

Aan die begin was dit vir die Van der Berg-gesin se familie ‘n taamlike skok om die klein lyfie elke dan en wan met ‘n ander kleur hare te sien, maar volgens Karin is hulle ook nou al mal daaroor.

“Die lewe is te kort om vervelig te wees”

Mamma Karin geniet dit ook om haar hare funky kleure te kleur. “Omdat ek ‘n haarkapster is, doen ek dit sodat my hare kan uitstaan en kliënte kan lok. Ek voel as my hare cool lyk, gaan mense hulle hare by my wil laat doen. Ek’s my eie advertensie,” lag sy.

Karin vertel sy hou daarvan om anders te wees en uit te staan. Volgens haar is die lewe vervelig genoeg vir ons almal om dieselfde te lyk.

Wat gebruik sy?

‘n  Spesiale poeier wat gemeng word met haaropknapper word gebruik om Karin en Hazel se hare te kleur. “Ek gebruik geen chemikalieë nie. Omdat sy spierwit hare het, hoef ek hulle nie eers te bleik nie,” verseker Karin.

Pop-speel

Volgens die trotse ouers is Hazel ‘n pragtige sonskynkind wat straal van liefde. “Sy is baie vriendelik en gaan sommer maklik na enigiemand toe. Sy glimlag altyd en is so oulik en het die oulikste maniertjies hoe sy goed doen. Sy is baie liefdevol en nog so onskuldig. Sy sien net die mooi in alles en almal raak.”

Karin kan nie uitgepraat raak oor haar dogtertjie nie en sê sy geniet dit vreeslik baie om ’n dogtertjie te hê. “Ek speel so lekker pop!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: