Louis de Kock is Wildeklawer

Louis de Kock (61), eienaar en hoofborg van Wildeklawer, was nog nie een dag spyt oor sy insette by die land se voorste rugbytoernooi nie.

“My plan was nooit om ‘n normale toernooi te hê nie. Ek wou die geleenthede na ‘n moontlike volgende stap skep vir die spelers.”

Wie is Louis?

Louis vertel hy boer al vandat hy vyf jaar oud is is saam met sy pa op die plaas, maar self boer hy al vir die afgelope 32 jaar.

Op Wildeklawer (die plaas) sal jy grotendeels uie en aartappels kry, maar ook beet, wortels, koring en mielies.  Gedurende die besige tyd van die jaar het Louis ongeveer 1 600 werkers op die plaas wat 3 700 hektaar besproeiing het.

“Indien jy die aartappels en uie langs mekaar sit, is dit so goed soos een keer om die aarde.”

Waar kom die naam Wildeklawer vandaan?

“Ek het die plaas 32 jaar gelede by ‘n vrou gekoop wat die plaas Wildeklawer genoem het omdat daar orals op die plaas wildeklawers groei,” vertel Louis.

Hoekom het jy besluit om Wildeklawer te begin?

Volgens Louis is sy familie al sedert 1960 besig met jeugontwikkeling en lê dit hom nog altyd na aan die hart. “Sport het ongelooflike opvoedkundige waarde en soveel eienskappe word geleer. Dit help ongelooflik met die ontwikkeling van die jeug. Eienskappe soos dryfkrag, selfdissipline, uithouvermoë, tegnieke – jy leer om te wen en te verloor, jy leer om doelwitte te stel en dat jy nie kan opgee nie.”

Wildeklawer dek hele spektrum

Buiten die Wildeklawer-toernooi is daar nog vele ander projekte waarby Wildeklawer betrokke is. “Dit is vir ons belangrik dat ons by die hele spektrum betrokke is. Van voedingsprojekte vir minderbevoorregte mense, tot toernooie soos dié vir begaafde kinders.

Een van Louis se grootse doelwitte is om uitmuntendheid by die toernooi te bevorder. “Ons benodig meer excellence in die land. Ons hou die toernooi om begaafde kinders te bevorder. Ons kan nie net fokus op die minderbevoorregtes nie; ons moet die hele spektrum dek.”

Motivering vir aanhou

Louis vertel sy grootste motivering is om te sien hoe die toernooi elke jaar groei en van krag tot krag gaan. “Die entoesiasme van die mense elke jaar is wonderlik en dit neem elke jaar toe. Ander projekte spring met ‘n bang weg en kan dit nie volhou nie, waar Wildeklawer elke jaar net beter raak.”

Voorts vertel hy dit sal die grootste fout sal wees indien hy besluit: “Dié jaar is die laaste jaar van Wildeklawer.” “Die feit dat dit elke jaar groei, bewys aan my dat dit is wat mense nodig het.”

Kimberley moet meer betrokke raak

Louis vertel hy is baie dankbaar vir elke besigheid wat betrokke is by Wildeklawer, “maar daar is baie plaaslike besighede wat nie is nie. Ek sal graag wil sien dat meer van die besighede moet betrokke raak. Tans is nasionale borge die meerderheid. Wildeklawer is ‘n groot inspuiting vir Kimberley.”

Louis se boodskap

“Hier is baie spelers by die toernooi wat graag ‘n kontrak wil hê of op ‘n hoër vlak wil betrokke raak, maar moet nooit dat geld jou dryfkrag word nie. Laat passie ten alle tye jou motivering en dryfkrag wees.”


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *