Met ‘n fluitjie in sy hand is André Bester (22) op sy gelukkigste. Nadat hy op die ouderdom van 15 ‘n rugbesering opgedoen het, het André besef hy gaan nie weer op die veld kan draf as ‘n speler nie, maar eerder as ‘n skeidsregter .
André is vanjaar vir die derde keer in ‘n ry een van die skeidsregters by die Wildeklawer-rugbytoernooi vir laerskole wat by laerskool Newton gehou word.
André het op 16 sy eerste wedstryd by ‘n laerskool geblaas nadat hy by die SA-skeidsregtersakademie opleiding gekry het, asook sy vlak 1 en 2 as wêreldskeidsregter voltooi het. Sy eerste “groot” wedstryd wat hy geblaas het, was by Maties se koshuisfinaal.
André is tans ‘n sportsielkunde-student op Stellenbosch en kan tans met sy opleiding op eie vlak blaas. “My droom is om eendag internasionaal te blaas.”



