Pretrit ontaard in nagmerrie by Bloemskou

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Middeljarige man, ‘n vrou en ‘n tiener is na die hospitaal gehaas nadat een van die pretritte, by die pretpark by Bloemskou, se karretjies gebreek het.

Die man (33), sy vrou (31) en haar niggie (17) is tans al drie in die hospitaal waar hulle vir ‘n MRI-skandering gegaan het. Volgens Ann Mitchel, die vrou se ma, sou die drie beseerdes slegs die aand in Bloemfontein oornag het by die man se broer, voor hulle môre terug sou gaan na hulle huis in Transvaal.

“Dit is regtig ‘n fratsongeluk. Ek is in die Kaap met vakansie toe ek 13:30 die oproep ontvang het. Ek probeer nog self uitvind wat het gebeur. Ek is nog so geskok.”

By navrae het Bloemskou gesê alles is onder beheer en ‘n verklaring rondom die insident uitgereik:

“Bloemskou se bestuur en raad is verbind tot die veiligheid van alle skougangers, uitstallers en vertoners.
Ons betreur ‘n insident wat op Saterdag, 27 April 2019, by een van die Bloemskou pretpark-ritte plaasgevind het en ons wil die publiek verseker van volgehoue veiligheidsmaatreëls deurentyd by alle skou-aktiwiteite.

Die nodige mediese aksieplanne is dadelik van stapel gestuur.”

Volgens Bloemskou word die insident ondersoek.