Kom word fiks saam met Kimberley-parkrun

Deel hierdie storie / Share this story

Hou jy van loop, draf en die natuur? Dan is Kimberley-parkrun vir jou!

Waar?

Kimberley-parkrun vind elke Saterdagoggend om 07:00 by die Rooifontein-natuurreservaat plaas.

Wat is parkrun?

Parkrun is ‘n gratis, weeklikse, 5 km waartydens elke deelnemer se tyd deur middel van stophorlosies aangeteken word. Daarna word die deelnemer se strepieskode geskandeer en die persoon kry sy/haar uitslae deur middel van ’n e-pos.  Parkrun is regtig vir almal. Of jy nou oud of jonk is, fiks of onfiks, jy is welkom by parkrun.  Jy kan hardloop, draf of stap en by parkrun sal jy nooit laaste klaarmaak nie; daar is altyd vrywilligers wat heel agter stap om seker te maak dat almal die roete voltooi en om dié wat dit nodig het, bietjie aan te spoor.  Al wat jy moet doen om deel te neem, is om te registreer, jou strepieskode te druk en op te daag. Mense met gestremdhede is ook baie welkom en indien iemand weens enige rede nie die roete kan voltooi nie, is hy of sy meer as welkom om deel te word van die parkrun-familie deur hulp as vrywilliger aan te bied.

Waar kom parkrun vandaan?

Parkrun  is op 2 Oktober 2004 in Bushy Park Engeland deur Paul Sinton-Hewitt begin.  Die eerste parkrun in Suid Afrika is op 2 November 2011 in Johannesburg by Delta gehou.

Kimberley-parkrun is die eerste keer op 21 Maart 2015 by Rooifontein aangebied.  Karien Potgieter het parkrun na Kimberley gebring.  Sy het intussen na New Zealand emigreer. Dis waar Hermien Lamprecht en Marina Pelser se betrokkenheid by die “bestuur” van Kimberley-parkrun begin het.

Hermien en Marina as “event directors” is basies die “voorsitters” van Kimberley-parkrun en beman die Facebook-groep, plaas die foto’s en dan sorg Marina ook dat die vrywilligers op die rooster geplaas word en dat daar genoeg vrywilligers is om al die belangrike posisies te vul.  Hermien antwoord gewoonlik al die e-posse deur die week en hanteer ook enige navrae.  Hulle moet basies sorg dat alles deur die week in plek is sodat Saterdae se parkrun vlot verloop.  ‘n Hele span vrywilligers help elke Saterdag om parkrun vir die gemeenskap te bring. Sonder hulle hulp sou dit nooit moontlik gewees het om dit aan te bied nie. Die vrywilligers is die supersterre van parkrun en hulle opoffering en hulp word ongelooflik waardeer.  Deur jou tyd en hulp aan te bied as vrywilliger, ontmoet jy so baie mense en nuwe vriendskappe word daardeur gesmee.