Kimberliet floreer in China

Deel hierdie storie / Share this story

Hendrico le Roux (19) van Kimberley het ‘n paar dae na hy sy matriekjaar in 2017 voltooi het, China toe gegaan om Engels te gaan gee.

Hoekom China?

“Ek het besluit om China toe te gaan, omdat ek ‘n verandering gesoek het. Dit was altyd net die gewone met die gewone leefstyl, so toe wil ek net graag iets anders doen en beleef. Ek het ‘n groot belangstelling in tegnologie en China het die beste betaal, dus is China die beste opsie vir my, so toe gaan gee ek skool vir twee- tot vyftienjariges,” verduidelik hy.

Stoksielalleen

“Toe ek daar land en besef ek was heeltemal alleen, was dit vreemd, maar ek het van die gevoel gehou. Ek hou daarvan om nie te weet wat wag of wat kom volgende nie. Ek het ook baie getoer wanneer ek af was. Dit was lekker om soms alleen te wees in ‘n heel vreemde dorpie en iets nuuts te doen. Die eerste drie maande was vir my die ergste, omdat alles so anders is, maar daarna begin jy inpas en hulle leefstyl aanvaar, so toe is dit nie meer so erg om ver van die huis af te wees of om alleen te wees nie.”

Beurs vir IT-studente

“Ek het die absolute voorreg om weer later vanjaar terug China toe te gaan. Ek het mense daar leer ken en toe die universiteit besluit om beurse uit te deel vir IT-studente het hulle my ook in kennis gestel. Ek is gelukkig genoeg om ook een van die beurse te ontvang, so ek gaan dan my BA-graad in IT doen by die Zhejiang Agriculture and Forestry Universiteit in Hangzhou,” sê hy.

Hendrico le Roux