Die immer gewilde Afrikaanse sanger, Kurt Darren, het toeskouers en televisiekykers aan die praat gehad toe hy Maandagaand, by die Varsitybeker-eindstryd op Stellenbosch, glo die lirieke van die nasionale volkslied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, verkeerd gesing het. Die gebeure het mense laat lag en ontstel.
Darren het o.a. bekendheid verwerf met sy treffer Meisie Meisie.
Dis wel nie die eerste keer wat dit gebeur nie. Ard Matthews, hoofsanger van die rockgroep Just Jinjer, het in 2011, tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland die woorde van die volkslied, vergeet. Hy het begin lag en verkeerde kitaardrukke gebruik, wat gemaak het dat hy erg vals geklink het.
Nog ‘n Suid-Afrikaanse sanger, Ras Dumisani, het in 2009 ‘n flater begaan toe hy die volkslied in Toulose, Frankryk, tydens ‘n rugbytoets verkeerd gesing het.
“So ‘n ongelooflike eer om die Volkslied acapella saam 20 000 studente te kon sing gisteraand!! Welgedaan #maties met die fantastiese wen, en dit was so mooi om #UPTuks se gebede te sien na die wedstryd. Ook lekker om weer tyd te spandeer saam my #HiTec_SA vriende!!” het Darren vanoggend op sy facebook-blad geskryf.





