Geweerskote klap op myngronde

Skote het begin klap nadat onderhandeling met ’n skare zama-zamas begin skeefloop het.

Inwoners wat op die ou skougronde agter Monster Mob in Hullstraat woon, het vroeër die oggend van 11 April 2019 ’n gedeelte van Hullstraat versper en rommel aan die brand gesteek. Hulle verbied Ekapa-trokke om van die grondpad wat Hullstraat kruis en langs hulle wonings loop, gebruik te maak.

Rassie Erasmus, hoof van sekuriteit vir Ekapa, sê: “Die myn het die nodige permitte om van die grondpad gebruik te maak. Ons het in verlede week ’n vergadering gehad met George, ’n leier van die nedersettings, waartydens ’n ooreenkoms bereik is.”

Voorts sê hy: “Ons sal voorlopig nie van die pad gebruik maak totdat ons ’n opvolgvergadering met die leiers gereël het om die saak te bespreek nie. Ons kommer is wel oor die pyplyn wat teen die grondpad loop. Dit vervoer slym wat chemikalieë bevat, wat die inwoners en hulle kinders kan brand indien dit beskadig sou word. As dit gebeur, sal dit ’n ramp wees.”

’n Leier in die nedersetting sê: “Ons het eers op die grond van die myn gebly. Die munisipaliteit het toe vir ons die grond wat hulle oorkant besit, gegee. Ons woon nou al hier vandat die eerste zama-zamas hier begin zama het. Wanneer die zamas ’n 4 karaat diamant uittrek, dan kom die myn en span heinings om die grond. Ons wil nie hê die myn se trokke moet van die grondpad gebruik maak nie.”

Tydens die informele vergadering wat as gevolg van die protesaksie gehou is, het die hoof van sekuriteit nuus ontvang dat zama-zamas besig is om die heining by die myn se ingang duskant Gumtree Lodge, by die afrdaai na Rooifontein, te beskadig. Die polisie, sekuriteit en leier van die nedersetting het hulle na die toneel gehaas.

By die toneel het ’n sekuriteitsbeampte na ’n polisievoertuig gehardloop wat by die ingang gestaan het en gesê: “Een van ons manne bloei, kom help ons.”

’n Hommeltuig het oor die toneel gevlieg. Skote het begin losbrand en ongeveer 17 skote is afgevuur.

Kapt. Tessa Jansen sê: “’n Saak van beskadiging van eiendom en oortreding is geregistreer. Niemand is beseer nie.”

Geweerskote soos dit op die klankbaan van die beeldmateriaal verskyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: